Liewe Heksie bekoor by die ERT
Haar visvang ekspedisie was dalk nie so suksesvol nie, maar Levinia Heks het beslis 'n teater vol mense se harte gevang.
SASOLBURG. – Daar was groot opgewondenheid by die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg.
Oupas, oumas, ma’s en pa’s met die kleingoed in tou het reeds van vroeg af opgedaag. Menige kleinding het hul poppe onder die arm vasgeknyp.
Almal het net een vraag gehad, waar is Liewe Heksie? Elke kind wat die teater betree het, het dadelik Liewe Heksie se huisie op die verhoog raakgesien en probeer kyk of hul haar nie dalk al gewaar nie.

Beurtkrag het presies om 14:00 toegeslaan, maar gelukkig het die kragopwekker vinnig ingeskop.
Asems is ingetrek toe daar skielik ‘n rokerigheid op die verhoog te sien was. “Levinia rook,” het Gerrie Willemse plegtig verklaar waar hy heel voor gesit het.
Gerrie is serebraal gestrem, ‘n groot Liewe Heksie aanhanger en sy suster-hulle het hom spesiaal van Brakpan af gebring om die vertoning te kom kyk.
Uiteindelik het die nimlike Karel Kat sy verskyning op die verhoog gemaak met ‘n neon pienk visstok in die hand.
Die kinders het dadelik entoesiasties begin saamgesels oor visvang. Die oomblik toe Blommeland se enigste heks, Levinia die verhoog betree, het die vreugde van die gehoor geen einde geken nie.
Oud en jonk het hul ingeleef in Liewe Heksie se gesukkel om te verstaan van ‘n katrol, wat sy hardnekkig kastrol bly noem het en die kinders was baie kwaad toe die Geel Heks die sokvis aantrek wat Levinia gevang het.
‘n Mens kan verstaan hoekom Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl weer met ‘n KANNA toekenning vir die beste Kinderteater deur die KKNK bekroon is. Die twee kry dit meesterlik reg om die hele gehoor (van die oupa’s tot by die kleuters) in die palm van hul hand te hou.
Daar is saam geleer, gesing, gedans en gekraai van die lag. Hier op die einde toe die Silwerroos uiteindelik weer sonder ‘n rooi uitslag en veilig is, vra Karel Kat en Levinia die gehoor om foto’s te neem, en dit op sosiale media te deel.
Dit het oortuiging gekos, want die Vaal se kinders is wetsgehoorsaam. Die oom (Herman van Niekerk) het dan voor die tyd gesê hulle mag nie foto’s neem nie!
‘n Pluimpie vir die twee akteurs wat hul so in hul karakters inleef en met hope geduld die kinders hanteer. Dis duidelik dat hul ‘n passie vir hul werk het.
Van Zyl se oortuigende vertolkings van Karel Kat, Koning Rosekrans en die Geel Heks is besonders. Nie een keer het ‘n kind agtergekom dat dieselfde akteur al drie rolle vertolk nie.
Ten spyte van ‘n baie druk skedule, het Margit steeds tyd gemaak om na die tyd vir Gerrie te kom groet en vir ‘n foto te glimlag. Dit het sy jaar gemaak!
Liewe Heksie het dalk nie so lekker verstaan van visvang nie, maar sy straal omgee en liefde uit.
Ons sien uit na sommer nog baie avonture saam met haar by die “Ettie” soos sy self na die ERT verwys.
