Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Oor oomblikke wat te kosbaar is vir 'n foto en hoe ek Liewe Heksie so ver gekry het om my boek te teken.
RUBRIEK. – Nou die Sondag maak ek en Ma klaar om Liewe Heksie vang vis in die ERT in Sasolburg te gaan kyk.
Terwyl ek seker maak my kamera is ge-simkaart en ge-battery, want ek vergeet die twee noodsaaklikhede mos gedurig, onthou ek skielik van my Liewe Heksie boeke.
Ja, ek het nog twee Liewe Heksie boeke in my besit. Ek het ook die hele Trompie reeks, vele boeke uit die Maasdorpreeks, Heidi, Anne of Green Gables, Polyanna en Little Women onder andere…

‘n Goeie boek is ‘n goeie boek en ek geniet die jeugverhale wat so tussen Oom PG du Plessis se stories, AG Visser se gedigte en Dalene Matthee se bosboeke kuier.
Allegeval, ek gryp daar die dunner een van my Liewe Heksie boeke en maak dit pas in my kamerasak. Geniet ons toe die vertoning vreeslik.
Dink Ma het meer vir die kinders om ons gekyk as vir die verhoog, want ai die kleingoed het hul behoorlik in die storie ingeleef.
Ek het gereël dat ek net na die vertoning ‘n foto van Margit Meyer-Rödenbeck as Levinia Heks kan neem. Weet sy is baie haastig, want hul moes dieselfde middag Kaap toe vlieg en tussen Sasolburg en die lughawe kan baie gebeur.
Getrou aan haar woord maak sy haar verskyning soos die laaste mense uit die teater verdwyn. Die uitdrukking op my verstandelik gestremde neef, Gerrie se gesig sal ek nimmer vergeet.
Hy is gek na Liewe Heksie en alhoewel ons ewe oud is, leef hy in sy wêreld met ‘n kinderlike uitkyk en verstaan van die lewe.
Die foto’s word geneem, sy ousus vee trane af van aandoening en Gerrie deel net drukkies uit. In die geharwar pluk ek my Liewe Heksie boek uit my sak.
“Sal jy vir my teken asb?” Vir ‘n oomblik sien ek, nou het ek ‘n ervare aktrise totaal onkant gevang, maar blitsig is sy weer Levinia.
“Jy weet ek weet nie mooi van spel nie,” sê sy. “Is reg,” glimlag ek tevrede met die heksie wat agterstevoor in my boek verskyn.
Het nooit die voorreg gehad om die skrywer Verna Vels te ontmoet nie, maar ek is baie bly ek het die hoofkarakter se handtekening gekry.
Soms wens ek ek kon permanent met ‘n kamera gereed loop en daardie eerste reaksies van mense vasvang as die onverwagse gebeur.
‘n Dag of wat na die vertoning is ek en Ma op ‘n missie Drie Riviere toe. Ma het ‘n prag pienk teddiebeer en kouse gebrei vir ‘n dogtertjie van 18 maande wat ons van geen kant af ken nie.

Dit het alles begin toe Ma vir haar opvolg besoek na haar handoperasie die ortopeed gaan sien het.
Saam met ons in die wagkamer was die ouers met die baba wat droewiglik aan die huil gegaan het tydens haar ondersoek. Lei Ma toe af die kind moet gaan vir ‘n handoperasie.
Ons kry die datum by die ontvangsdame en Ma oefen haar seer hand sodat sy die beertjie kan brei. Die dag van die operasie breek aan, koud en nat, maar ons durf die pad aan.
By die hospitaal ontvangs kyk die vrou ons eers wantrouig aan, maar toe sy die beertjie sien en ek die saak verduidelik, kry ons die aanwysings na die kindersaal.
Dis buite besoektyd, maar die suster aan diens sien gelukkig ons is betroubaar en beduie na die kamer reg agter haar stasie.
Binne sit die ma en pa albei kop onderstebo. Die spanning loop hoog. Die kleinding staan in haar pajamas by die bed en huil.
Seker ook al honger en dors en totaal benoud in die vreemde omgewing. Hulle kyk verbaas op. Ek haal my beste Engels uit en verduidelik die storie.
Die glimlagte wat op daardie twee mense se gesigte uitgebreek het is onbeskryflik. Asof ons lig vir hul in ‘n donker tonnel gebring het.
Die jonge juffie, vat vat aan die sagte kousies. Skielik besef sy die teddiebeer is hare. Weg is die trane en die beertjie word styf in haar arms vasgeknyp.
“Good luck. We will be thinking of you,” sê ek en toe is ons daar uit. Steeds geen idee wie die mense is nie. Ons het onsself ook nie voorgestel nie.
Maak nie saak nie. Doel is bereik. ‘n Kind se dag is gemaak en hopelik sal die beertjie help om bietjie vertroosting te bring deur die herstelproses wat voorlê.
Dis nog ‘n foto wat ek sou wou neem. Die vreugde op die kind se gesig toe sy daardie teddiebeer vasdruk. Ek het nie. Die oomblik was te kosbaar. Sela!
