Eskom-subkontrakteur by Lethabo-kragstasie doodgeskiet
'n Eskom-subkontrakteur is Sondagaand (7 Mei 2023) in die parkeerterrein van die Lethabo-kragstasie naby Sasolburg doodgeskiet.
SASOLBURG. – Die oorledene, Siyabulela Nkwelo (48), het glo kort voor 18:00 na sy voertuig geloop toe daar op hom losgebrand is.
Kollegas van Nkwelo het die skote gehoor en glo gesien hoe die verdagtes in ‘n wit Volkswagen Polo met ‘n Mpumalanga-registrasienommer vlug.
Met aankoms het die polisie Nkwelo op die grond aangetref. Hy het plat op sy maag gelê.
Nkwelo was glo ‘n sweiser van beroep.
Volgens sers. Josephine Rani, ‘n polisiewoordvoerder, word die saak deur die Vrystaatse eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek.
Daar word blykbaar na vyf verdagtes gesoek.
Mense wat inligting het wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei word versoek om die ondersoekbeampte sers. Tauru Majoe by 071 094 0570 te skakel.
