Local newsNewsNews

Ansumé (15) is o.18 Afrika paalspring-kampioen

VANDERBIJLPARK. - "Dit was vir ons as ouers 'n ongelooflike leap of faith om ons dogter (toe net 14 jaar oud) Kaap toe stuur. Maar ons is God ewig dankbaar vir die geleenthede wat sy gebied word. Sy is super gelukkig as 'n leerling van Hoërskool Stellenbosch en haar sportloopbaan het nou nuwe hoogtes bereik."

Dit is hoe die nuwe Afrika paalspring-kampioen, Ansumé de Beer, se trotse ouers (Stephan en Angelique) oor hul besluite rakende hul oudste dogter gesels.

Ansumé het pas by die Konfederasie van Afrika Atletiek in Zambië die paalspring vir d.o/18 met ‘n persoonlike beste van 3.80m gewen, en haar Springbokkleure verwerf.

“Dit is ‘n wonderlike gevoel, maar dit was ook baie stresvol. Wanneer ek so voel, dan herinner ek myself maar net weer hoekom ek dit doen en wat ek wil bereik,” sê Ansumé. Sy wil graag eendag aan die Olimpiese Spele deelneem.

“Ek weet dit is ‘n lang pad en baie werk tot dan, maar ek is meer as bereid om daardie pad te stap.”

Ansumé in aksie.

Ansumé is ‘n oudleerling van Vaalpark Primêr en het haar hoërskoolloopbaan net by HS Transvalia begin toe sy ‘n beurs van Endurocad ontvang het. Dit was ‘n groot besluit, maar Ansumé “love die skool en die pragtige omgewing” waar sy haar nou bevind.

Ansumé het egter nie ‘n maklike aanloop tot die Afrika-byeenkoms gehad nie. Sy het verlede jaar vreeslik gesukkel met beserings. Eers was dit ‘n ou liesbesering wat weer in Februarie opgevlam het, toe skeur sy ‘n ligament in haar enkel (sy was ses weke op krukke), en toe kry sy erge shin splints wat amper gelei het tot ‘n stresfaktuur.

“Laasgenoemde is net betyds gestop deur ons eie dr. Bester in Vanderbijlpark. Hy het bloedplaaitjie behandeling gedoen, gesamentlik met laserterapie en het haar hersteltydperk met vier weke verkort. Ons is so dankbaar vir hom,” sê ma Angelique.

In Januarie het ‘n moedelose Ansumé die atletiekseisoen aangepak. “Ons het weens al die terugslae nie veel verwag nie, maar by God is niks mos onmoontlik nie!

“Ons kan net vir God al die lof en eer gee vir hoe Hy Ansumé seën. Sy het puik vertonings gelewer,” vertel Angelique.

Ansumé saam met kleinsus Caprivi en haar ouers, Angelique en Stephan de Beer van Vanderbijlpark.

Van haar 2023 prestasies sluit in:

Wenner van ASA Kampioenskappe in Pietermaritzburg met ‘n hoogte van 3.70m (word ingesluit by die span na Zambië vir
die Afrika Kampioenskappe).

Tweede plek by SASA Skole Kampioenskappe met ‘n hoogte van 3.70m.

Tweede plek by ASA Senior Kampioenskappe met ‘n hoogte van 3.70m.

Wenner by ASA Afrika Kampioenskappe in Zambië d.o/18 met ‘n hoogte van 3.80m.

Ansumé en haar afrigter JP van As van Boland Paalspring Akademie

En natuurlik was haar ouers en jonger sussie, Caprivi (ook ‘n baie talentvolle atleet), saam in Zambië om Ansumé te ondersteun. As gevolg van vorige probleme met lugrederye wat nie die paalspringpale by die byeenkomste in Afrika kon kry nie, het pa Stephan die hele SA span se spiese en pale met sy Land Rover na Zambië vervoer. Hy het vier dae tot daar gery, ‘n afstand van 2 500km.

Ma en kleinsus se kaartjies is deur familielede betaal. “Ons is so dankbaar vir ons familie,” sê Angelique.

Sy bedank ook Ansumé se eerste paalspring-afrigter, Hennie Els van die Sasolburg Paalspring Akademie. Hy het ‘n groot aandeel in haar sukses en liefde vir paalspring en natuurlik Ansumé se huidige afrigter, JP van As van Boland Paalspring Akademie.

* Ansumé se raad aan ander jong atlete is: “Maak nie saak hoe moeilik dit word, of hoe groot die druk word nie, moet nooit jou drome prysgee nie.

Stephan de Beer is beslis ‘n pa duisend. Hy het die SA span se spiese en pale al die pad (2 500km) met sy Land Rover na Zambië vervoer.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button