Local newsNewsNews

Ma en haar drie seuns in beskuldigdebank vir moord

Die ma word saam met haar drie seuns en ‘n ander man van moord aangekla. *WAARSKUWING: DIE STORIE BEVAT GRAFIESE FOTO'S WAT SENSITIEWE LESERS KAN ONTSTEL.

*WAARSKUWING: DIE STORIE BEVAT GRAFIESE FOTO’S WAT SENSITIEWE LESERS KAN ONTSTEL.

Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (12 Mei 2023) verskyn.

VEREENIGING. – ‘n Ma het saam met haar drie seuns in die beskuldigdebank ingeskuif toe die familie Maandag, 15 Mei in die rondgaande hooggeregshof in Benoni verskyn het vir die moord op Ben Lotz, ‘n inwoner van Leeuhof.

Lindi Falch (44) staan nou ook saam met haar seuns, Raymond Mentz (21), Shane Mentz (24), Simon Anton Mentz (18) en hul vriend Estafaan Christiaan Delport (20) tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en oortreding van die dierebeskermingswet.

Lindi Falch (44), ma van die Mentz-broers, is nou ook ‘n beskuldigde in die saak. Foto: Christiaan Cloete

Al die verdagtes is tans uit op borg.

Wat op die aand van 22 November 2021 glo as ‘n stryery tussen Lotz en die Mentz-broers van Leeuhof oor harde musiek begin het, het later in ‘n bloedbad ontaard.

Lotz se lewelose liggaam is later die aand by sy woning aangetref nadat hy met die jonger mans daar baklei het.

Volgens die klagstaat het die beskuldigdes op die betrokke aand Lotz se staalhek beskadig en sodoende toegang tot sy eiendom verkry.

Twee van Lotz se honde is met ‘n mes doodgesteek en Lotz het later aan sy beserings beswyk nadat hy ook aangeval is.

Ben Lotz se vrou by die huis waar Lotz vermoor is. Foto: Christiaan Cloete
Ben Lotz wat vermoor is. Foto: Verskaf

Die polisie het in 2021, in ‘n verklaring wat na die voorval uitgereik is, gesê dat die stryery tussen Lotz en die jonger mans glo weens harde musiek ontstaan het.

Falch, wat in daardie stadium nog nie ‘n verdagte in die saak was nie, het aan Vaalweekblad vertel dat Lotz die jonger mans met ‘n panga aangeval het.

Blykbaar het die Mentz-broers en hul vriend toe vir Lotz by sy huis gaan konfronteer.

Regter Portia Phahlane het die saak tot November uitgestel.

Ben Lotz is dood op die vloer van sy huis aangetref. Foto: Verskaf
Een van Lotz se twee honde wat tydens die aanval doodgesteek is. Foto: Christiaan Cloete

Die verhoor is uitgesit vir ‘n tydperk van twee weke (6 November 2023 – 17 November 2023).

n Lasbrief wat vroeër vir Delport se inhegtenisname uitgereik is omdat hy nie in die hof verskyn het nie, is Maandag teruggetrek nadat sy afwesigheid blykbaar weens ‘n misverstand was.

Delport het blykbaar intussen verhuis.

n Uitstaande DNS-verslag het hofverrigtinge verlede week vertraag.

Daar word steeds vir die uitslag van die polisie se forensiese laboratorium gewag.

Jaco van Heerden tree namens Falch en haar drie seuns op.

Martin Botha tree namens Delport op.

Eric Sishlangu is die staatsaanklaer.

Raymond Mentz (21) en sy ma, Lindi Falch (44) in die hof. Foto: Christiaan Cloete
Die Mentz-broers, hul ma en ondersteuners in die hofbanke. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button