Local newsNews

Danksy lesers vlieg Oom Gert Kaap toe vir skoonseun se begrafnis

Hy bedank graag ieder en elk wat 'n bydrae gemaak het sodat hy 'n laaste eer aan sy geliefde skoonseun kon gaan betuig.

 

VANDERBIJLPARK. – Op Sondag, 30 April, het groot kommer in die bejaarde Vanderbijlparkse pensioenaris, Oom Gert van Zyl, se hart kom lê nadat hy gehoor het sy geliefde skoonseun, Hannes Erasmus (48), het in die Kaap met sy motorfiets gegly en 100 meter ver by die Franschhoek-pas afgestort.
Hannes het die val wonderbaarlik oorleef en is deur reddingspanne uit die pas gered en hospitaal toe geneem, maar sy rug was gebreek en hy sou moontlik permanent verlam wees. Sy toestand was kritiek.

Vier dae later het Oom Gert se dogter, Sandra Erasmus, die tragiese nuus gebring wat Oom Gert so gevrees het: Sy groot, sterk skoonseun met die sagte hart en mooi stem het Donderdagmiddag, 4 Mei, in die Tygerberg-hosptaal aan sy beserings beswyk.

In die opvolgende dae wou Oom Gert niks anders doen as om net te huil en na Hannes se foto’s te staar nie. Hy en Hannes was veel meer as net skoonpa en skoonseun. Hulle was soos bloedfamilie wat graag saam gebraai, gekuier en gehengel het, soos die afgelope Paasnaweek toe Hannes en Sandra nog in Vanderbijlpark kom kuier het. Die wete dat hy nie geld gehad het om Hannes se begrafnis in die Kaap te gaan bywoon en sy dogter, Sandra, te gaan bystaan nie, het Oom Gert se verdriet vererger.

Nadat Vaalweekblad van die tragiese gebeure gehoor het, het ons Sondag, 7 Mei, ‘n berig op ons webwerf en Facebook-profiele geplaas en gevra of daar individue of motorfietsklubs was wat Oom Gert geldelik wou help om in die Kaap te kom. Soos altyd het Vaalweekblad se lesers nie op hulle laat wag nie. Binne enkele ure is genoeg geld vir ‘n retoervlug ingesamel, sowel as vir ‘n taxi om hom van Vanderbijlpark na OR Tambo-lughawe te vervoer. Monnas Cabs het hul dienste teen ‘n spesiale afslagfooi beskikbaar gestel. ‘n Dankbare Oom Gert kon toe Kaap toe vlieg – betyds vir die herdenkingsdiens op Vrydag, 12 Mei, in Bellville. Hy beplan om ‘n paar weke in die Kaap te bly om sy dogter te onderskraag. Hy bedank graag elkeen wat ‘n bydrae gemaak het sodat hy ‘n laaste eer aan sy geliefde skoonseun kon gaan betuig.

* Wyle Hannes en Sandra was sowat 20 jaar getroud en het nie kinders gehad nie. Hannes was ‘n bekende in Wes-Kaapse motorfietskringe en sy liefde vir diere was volgens sy Facebook-vriende legendaries. Een van sy geliefkoosde tydverdrywe was om diereskuilings in hul omgewing te besoek en huislose honde met droëwors en ander lekkernye te bederf.

Danksy donasies van Vaalweekblad-lesers kon Oom Gert van Zyl verlede week Kaap toe vlieg vir sy oorlede skoonseun se herdenkingsdiens. Hier kom hy in die lughawegebou in Kaapstad aan.
Skermgreep uit video: Wyle Hannes Erasmus, wat na ‘n motorfietsongeluk gesterf het, was baie lief vir diere. Hy het graag hondeskuilings in sy omgewing besoek om die diere met lekkernye te bederf.
Oom Gert van Zyl van Vanderbijlpark by ‘n kruis in die Franschhoek-pas, waar sy skoonseun Hannes se ongeluk plaasgevind het.

Lees die oorspronklike berig oor wyle Hannes Erasmus se ongeluk by hierdie skakel: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/162269/biker-oorleef-n-100-meter-val-sterf-4-dae-later/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button