Parkeerterreinprediker maak kerk toeganklik vir haweloses en Jan Alleman
Die parkeerterrein van die River Square-winkelsentrum in Drie Riviere kry elke Woensdagaand lewe wanneer 'n groep kerkgangers daar uitslaan. Vaalweekblad het gaan inloer om uit te vind wat daar aangaan.
VEREENIGING. – Elke Woensdagaand teen skemer is daar ‘n gejubel en ‘n gejuign in die parkeerterrein van die River Square-winkelsentrum in Drie Riviere.
Pastoor Corrie van Staden en sy vrou, Sonja, sê hulle het die opelugkerk, waar almal van boemelaars en verbylopers tot inkopiegangers welkom is, sowat twee jaar gelede tot stand gebring toe hulle ‘n behoefte aan so ‘n kerk geïdentifiseer het.
Volgens Corrie is mense al uit kerke gejaag omdat hulle nie skoene aangehad het nie en omdat hulle nie te lekker ruik nie.
Hy en sy vrou wou ‘n plek skep waar hierdie mense welkom is, en ‘n opelug kerk was die perfekte oplossing.

Die parkeerterreinkerk het so uitgebrei dat dit nie meer net haweloses en straatslapers is wat Woensdagaande die dienste bywoon nie.
“Nou is dit die gemeenskap wat sê ‘dit is hoe ons wil kerk hou’.”
Baie mense kom na werk om die dienste by te woon en leraars van die NG Kerk het glo al aangebied om dienste hier in die opelug teen skemer te lei.

Die Van Stadens is bekend vir hul Showers of Blessing-bediening wat hulle sowat vyf jaar gelede tot stand gebring het om hawelose mense te help en dié kerk is ‘n uitbreiding hiervan.
Corrie vertel: “Ons het begin om broodjies in Meyerton aan minderbevoorregte mense uit te deel en het gesien daar is ‘n behoefte onder hierdie mense om skoon te wees.
Ek het by ‘n sleepwa-onderneming ingestap en gevra of hulle vir my ‘n sleepwa met ‘n stort kan bou.”
Volgens Corrie was die man aanvanklik huiwerig om so ‘n sleepwa te bou, maar later het hy vir Corrie teruggebel en die sleepwa vir hom gebou.
Die Van Stadens het oor die jare ook bykomende storte bygekry waarmee hulle help om mense te bad.

Staden se parkeerterreinkerk. Foto: Christiaan Cloete
Tydens die Covid-inperking was die Van Stadens bedrywig in Vanderbijlpark waar hulle gehelp het om tientalle mense van die strate af te haal en in ‘n rehabilitasiesentrum te kry.
Hulle is die afgelope twee jaar bedrywig in Drie Riviere wat die laaste paar jaar ‘n toevlug geword het vir baie hawelose mense.


