Atleet-paartjie haak die knoop deur na 10km-wedloop
Hulle het ‘n paar uur voor hul troue ‘n vinnige 10km kafgedraf!
*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (12 – 18 Mei 2023) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir die jongste nuus.
MEYERTON. – Hulle sê die liefde is soos ‘n langafstandwedloop: Soms raak ‘n mens moeg en moedeloos, maar dan byt julle saam vas en julle hou uit tot die eindstreep.
Tim (37) en Liezl Kriel (34), ‘n atleet-paartjie van Meyerton, het besluit om die lang pad van die liefde saam met mekaar aan te durf.
Die paartjie het op Vryheidsdag, 27 April na afloop van die Sedibeng Marathon by die renbaan by die Vaal-skougronde, trou aan mekaar gesweer nadat hulle saam die 10km-wedloop afgelê het.
Liezl het die wedloop met ‘n wit sluier, kousband en tutu aangedurf en Tim met ‘n groot geel das.
Ná die wedloop is hulle amptelik in die eg verbind tydens ‘n trou seremonie by die Journey Church in Vereeniging wat gelei is deur pastoor Andrew van Rensburg en ds. Daniel Grove.
Na die tyd is ‘n intieme onthaal by Rivierplaas in Meyerton gehou met ‘n handjievol gaste, voordat Tim en Liezl na die Drakensberge vertrek het vir hul wittebrood.

Die pasgetroude paartjie is versot op hardloop en het mekaar tydens ‘n klubdraffie ontmoet.
Liezl vertel: “Ons het mekaar by ‘n nie-amptelik klub-draffie raak ‘gedraf’.”
Liezl wou na ‘n vorige teleurstelling aanvanklik niks van liefde weet nie, maar nadat Tim haar gevra het, het sy ingestem om saam met hom te gaan koffie drink.
Van daar af het die liefde begin blom.
Tim en Liezl is albei deel van die Meyerton Atletiekklub, maar as hulle nie hul tekkies aan teerpad sit nie, sal jy vir Tim op sy skootrekenaar aantref en Liezl in die hospitaal.
Tim is in die rekenaarbedryf en Liezl vir die afgelope 10 jaar ‘n radiografis.
Die paartjie het in Januarie vanjaar verloof geraak tydens ‘n vakansie aan die Weskus.
Tim het teen sononder langs die Atlantiese Oseaan op Dwarskersbos se strand op sy knieë gegaan en Liezl gevra om met hom te trou.
“Ek het natuurlik ja gesê!” sê Liezl met ’n breë glimlag. Liezl en Tim het besluit om op Vryheidsdag te trou.
“Vriende het gespot en gesê dat ons op Vryheidsdag ons vryheid gaan verloor, maar dit was ‘n keuse wat ons gemaak het en ons staan daarby,” vertel sy.
“Met die troue wat vir 15:00 bespreek was, kry ek toe die idee om te soek vir ‘n wedloop op Vryheidsdag aangesien draf deel van ons daaglikse roetine is.Ons vind toe die Sedibeng Marathon wat om 06:00 die oggend sou afskop.
“Ek het dit eers as ‘n grap genoem, maar toe Tim van die idee hoor, het hy ingestem dat ons saam vir die 10 km moet inskryf en draf,” vertel Liezl.
Hulle het ‘n paar drafvriende genooi om saam met hulle die wedloop te doen en kort voor lank het hulle ‘n hele groep gehad.
By die eindstreep het Tim vir Liezl in haar sluier en tutu opgetel en haar oor die wenstreep gedra!
Fotograwe was gereed om die oomblik vas te vang.

