Local newsNewsNews

Psigiater, filosoof, pa en oupa met ‘n sagte hart

Maak nader kennis met een van die Vaal se bekendste psigiaters, Dr. Gideon Jordaan.

VEREENIGING. – Dr. Gideon Jordaan is ‘n bekende gesig in die Vaaldriehoek. Eers as dokter en nou as psigiater.

Alhoewel sy gesondheid hom deesdae so ‘n bietjie laat rem trap, is daar van aftree nog geen sprake nie. Die gebore en getoë Rustenburger het in 1969 aan die Hoërskool Bergsig gematrikuleer alvorens hy apteker swese aan die destydse PU vir CHO begin swot het.

Hy het algou besluit hy sien nie kans vir pille tel nie en het aansoek gedoen om medies aan die Universiteit van die Witwatersrand te gaan swot.

Nadat hy sy studies voltooi het, het hy sy huisdokter jaar by die voormalige Johannesburg Algemene Hospitaal voltooi alvorens hy weermag toe is.

Hy onthou hoe hy so 5 km van die Angola grens eenkeer met ‘n afvaardiging van die mediese dekane kennis gemaak het en een van hulle het hom ‘n pos by die Vereeniging Hospitaal aangebied.

Dis hoe sy pad die eerste keer met die Vaaldriehoek gekruis het. Op ‘n stadium het hy ‘n privaat praktyk in Grootvlei begin, alvorens hy ‘n praktyk as algemene praktisyn in Drie Riviere oopgemaak het.

“Ek het verveeld geraak en besluit om verder te studeer,” vertel hy van sy groot loopbaanskuif na psigiatrie. Nadat hy verskeie grade voltooi het, het hy voortgegaan met psigiatriese navorsing vir onder andere buitelandse maatskappye en was hy ook ‘n Buitegewone Professor aan die NWU.

“Ek het onder andere Neuro Anatomie vir die meestersgraadstudente in Potchefstroom aangebied,” onthou hy.

In 2014 het ook sy meestersgraad in Filosofie en Etiek voltooi. Intussen het sy praktyk in Vereeniging van krag tot krag gegaan.

Oupa Jordaan met sy kleindogter kort na haar geboorte. Foto: Verskaf

Ongelukkig het hy sowat vyf jaar gelede gesondheidsprobleme ontwikkel en moes hy ‘n hartomleiding ondergaan wat tot verdere komplikasies gelei het.

Daarna het hy geweet hy sal dinge moet stadiger neem. “Ek kan nou nie meer gholf speel nie. Ek het doodeenvoudig nie die krag daarvoor nie,” sug hy.

Sy praktyk wou hy nie opgee nie en hy het begin om slegs in die oggend konsultasies te doen. ‘n Besluit waarvoor sy pasiënte hom baie dankbaar is. So kan hy in die middae rus en by sy ander stokperdjies uitkom.

Dok Jordaan hou daarvan om met klei te werk en geniet dit om gesigte uit die klei te vorm. Dan is hy ook mal oor blokraaisels en Sudoku en enige fliek. Sy gesin lê hom na aan die hart.

Dok Jordaan is al dekades getroud met die kunstenaar, skrywer en digter Hanneke Jordaan en die egpaar het twee seuns en ‘n dogter.

Dan is hy ook oupa van ‘n eenjarige kleindogter. “Dis oupa se oogappel” glimlag hy breed, “net jammer sy bly so ver, in Somerset Wes.

“Ek het besef die lewe is nie ‘n worsmasjien nie. ‘n Mens kan en moet dit rustiger vat. Soos ek altyd vir my pasiënte sê: dis be langrik om ‘n kwaliteit lewe te hê. Gaan uit en geniet dit.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button