Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Die GrootJol was lekker, maar sjoe, dit was koud of dalk raak ek net oud. Lees meer...

RUBRIEK. – Dit was ‘n dag van twee seisoene. Die dag toe die GrootJol Vanderbijlpark getref het.

Vroegmiddag vind ek en Liewe Vriend ons weg na die gronde.

“Waar hou hulle dit?” vra hy die logiese vraag toe ons deur die groot hekke is.

Ek het geen idee waar op die uit gestrekte aarde langs die rivier ‘n buitelugkonsert aangebied word nie.

“Kom ons volg daardie bakkie,” hou ek my slim. Die betrokke bakkie en nog ‘n paar ander motors, gaan kry hul staan op die gras duskant die grote parkeerarea wat teen daardie tyd reeds vol gepak staan.

Ons hak die kampstoele, sak met baadjies en kamerasak oor ons skouers en begin die groot trek agter ander mense aan. En ons loop… en loop… en loop.

Op ‘n stadium ruil ons sakke en loop bietjie verder. Net deur die Casino se groot hekke, steek ek ek eers vas, slaan amper die arme mense agter my disnis met die grote kampstoelsak oor my skouer.

“My denim verloor,” antwoord ek die vraag in Liewe Vriend se oë.

Ek maak seker denim sit weer waar dit moet sit, wil nou nie ‘n hele spektakel veroorsaak by ‘n plek met kameras op elke hoek en draai nie.

Uiteindelik bereik ons ‘n tweede stasie. ‘n Jonge dame skandeer ons kaartJies en maak summier giggelgeelbandjies om ons polse vas.

Voor ons is mense. Baie mense. Almal op kampstoele. Ek verstom my so aan al die mense, ek kyk amper die grote verhoog mis. En dit was baie groot.

Waar daar ‘n opening is, is daar modder. Dit het die vorige week kortkort gereën. Ons gaan nie voorkant of in die middel regkom nie, ons wend ons na agter.

Vind ‘n redelike oop kol bedek met wat lyk soos saagsels. Duidelik is daar modder êrens onder verskuil.

“Die stoele is nie verniet so swaar nie, hulle is baie stewig,” kry ek die versekering terwyl ek die omgewing bestudeer.

Links is die VIPtent waar gewone media pleps soos ons nie toegelaat word nie.

Agter ons die biertent en so ‘n paar meter verder daardie verderflike blou gehuggies wat opgesit word vir as die nood druk.

Ons skud die stoele uit die sakke. Liewe Vriend gaan kry drinkgoed en ons gaan sit. Die horlosie sê dis 14:00, die vertoning begin.

Net daar slaan die eerste van die twee seisoene ons. Hoogsomer! Dis warm. Baie warm.

Die son skroei, die bleskoppe word rooi en niemand kan na regs kyk nie, want dan slaan die einste son jou met blindheid.

Ons kyk die een na die ander Afrikaanse kunstenaar vanuit ons verre posisie.

Dankie tog vir groot skerms, want selfs met my bril kan ek nie uitmaak wie staan op die verhoog nie.

Die klank is gelukkig van uitstaande gehalte, so die musiek kan ons, en ek hoor toe later, die helfte van Van derbijlpark baie goed hoor.

Hier by 17:00 se kant begin daar sulke lang skaduwees oor die veld trek. Hier en daar pluk mense baadjies uit sakke.

Minder as ‘n halfuur later toe slaan die tweede seisoen vir die dag. Winter!

Nie sommer ‘n alledaagse wintersaand nie. Nee, dit voel dadelik ons is net duskant die Suidpool.

Skielik het almal baadjies en jasse aan en die kinders hardloop met mussies rond.

Ons hou ons dapper. Op ‘n kol sê Liewe Vriend, miskien moet ons dink aan huis toe gaan, plaas sê ek ja, maar toe seg ek nee.

Twee van my gunstelinge, Ricus Nel en Bok van Blerk het op daardie stadium nog nie hul verskyning gemaak nie.

Ons sit. Dit word kouer. My tande begin klap, soos my oorle Nooihond se tande destyds nadat sy beroerte gehad het. Maar, ek hou vir my braaf.

‘n Halfuur later klink Ricus se boere pompie vir my asof hy dit van anderkant die Vaalrivier fluister. Al waarvan ek bewus is, is die koue.

Op ‘n kol begewe ek my na die blou gehuggies. Reken die bietjie loop sal help, maar niks.

Net voor 21:00 gooi ons handdoek in. Bok sing nog, maar ons kan nie meer nie.

Net om die stoele weer in die sakke te kry word ‘n hele stryd, vingers en breinselle voel ewe koud.

Uiteindelik kan ons die staptog terug aanpak. Nie eers dit kry ons warm nie.

Ek voel geheel doof. “Ek dink my oor dromme is gevries,” verklaar ek plegtig toe ons, ons sit in die kar kry.

Vat ons ‘n tydjie voordat ons ontvries genoeg voel om te kan gesels.

Dankbaar oor die warm sop wat sy ma vir ons by die huis reg het.

‘n Dag van uiterstes inderdaad. Miskien moes ons maar net by nabyge leë vriende gaan kuier het, dan het ons steeds alles gehoor, maar in die gemak en warmte van hul huis.

Of dalk raak ek te oud vir die klas van kaskenades? Hoe dit ookal sy, ek gaan vir die afsienbare toekoms net binneshuise goete bywoon. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button