NewsNews

Pa van oud-Springbok (69) sterf na aanval op Oranjeville-kleinhoewe

Die Vryheidsfront Plus sê hy veroordeel die moord op die 69-jarige André van Biljon van Oranjeville. Van Biljon is die pa van die oud-Springbok, Lukas van Biljon (47).

Van Biljon het in ‘n Bloemfonteinse hospitaal aan beserings beswyk nadat hy op sy kleinhoewe buite Oranjeville in die Vrystaat aangeval is.

Die Van Biljons is blykbaar Saterdagoggend kort ná middernag op ‘n kleinhoewe by Oranjeville aangeval.

Lucas van Biljon is blykbaar met messe gesteek en aanvaller het glo ‘n vuurwapen teen sy kop gehou.

André is geskiet.

Jan van Niekerk, die VF+ se provinsiale leier in die Vrystaat skryf in ‘n verklaring: “Hoewel moorde in Suid-Afrika volgens die jongste misdaadstatistiek gedurende die eerste drie maande van die jaar afgeneem het, is die wreedheid waarmee moorde en aanvalle, veral in landelike gebiede gepleeg word, skokkend.

“Elke moord is een te veel en onnodig.

“Dit is duidelik dat misdadigers al hoe meer gewelddadig raak. Die wortels van gewelddadigheid is kompleks en strek tot diep in ʼn samelewing.

“Die polisie en die nasionale vervolgingsgesag moet nou voldoende toegerus word om misdadigers in landelike gebiede aan die pen te laat ry.

“Die VF Plus spreek hiermee sy opregte medelye uit met die Van Biljon-familie en wens die oorledene se seun, die voormalige Springbok-haker, Lukas Van Biljon, ʼn spoedige herstel toe. Hy is beseer tydens die aanval,” sê van Niekerk.

Die VF Plus het opnuut ʼn ernstige beroep op boere en landelike gemeenskappe gedoen om veiligheidsmeganismes in plek te stel, betrokke te raak by bestaande netwerke en om paraat te wees om hul veiligheid te verseker.

Back to top button