Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Die koue begin byt, stewels knyp en griep is alweer met ons, maar die winter het ook sy eie bekoring. Lees meer....
RUBRIEK. – Junie het aangebreek. Wintertyd. In die ou dae was dit rugbytyd, maar nou se dae speel hul mos heeljaar en g’n mens hou meer kop met watter span is waar besig om in watter reeks te speel nie.
Al wat ‘n Springbok is draf wêreldwyd in vreemde truie rond en as ‘n Suid-Afrikaanse klub die slag teen ‘n oorsese span speel, dan is dit amper so goed hulle speel teen ‘n ander Suid-Afrikaanse span.
Ek het in die dae van amateur rugby grootgeword. Jou span was jou span en die Curriebeker het koning gekraai. Maar, dis ver in die verlede.
Wat nie verander het nie, is winter. Lyk my hierdie jaar gaan ons swaarkry. Winter het nog skaars kom nesskop en dis skrikwekkend hoe baie mense siek is of reeds siek was.
Ek hoor alles van varkgriep en Covid tot by griep, pampoentjies en masels. Hierdie jaar se griep is niemand se maat nie.
Die een dag het iemand nog ‘n bietjie keelseer en die volgende dag is hul plat in die bed. Vir lank.
So het die ou griep al ‘n paar kollegas platgetrek, my ma is siek en Liewe Vriend het ook sy bed betrek.
Dokters is oorwerk, die spreekkamers is vol en die rye by die apteke om voorskrifte te kry is om van te huil. Ek weet. Ek moes Woensdag weer in ‘n apteek se ry staan om Ma se voorskrif te kry.
Wel, die eerste ruk skuif-skuif mens so met die bank langs. Wanneer die skermpie flits en die spookstem sê watter toonbank is oop, dan lig almal hulself net so effentjies en skuif ‘n entjie aan.
Eerste persoon staan, kaart en voorskrif gereed soos wat die spookstem beveel.
Dan die staan voor die toonbank terwyl die apteker se vingers oor die sleutelbord vlieg, voordat hulle woerts-warts na agter beweeg en die nodige bottels en boksies gaan haal.
Wanneer jy uiteindelik die geslote mandjie in die hand het, trippel jy soos Rooikappie van ouds in die lang gang af om by die betaalry te kom.
Hier herhaal die proses homself, behalwe ‘n mens staan en gee net so af en toe ‘n halwe tree vorentoe. Ek hou maar my afstand, vir ingeval die persoon voor my dalk een of ander virus kan oordra, die dat ek net halwe treë vorentoe gee.
Dis nie dat ek ‘n probleem het om te wag nie. My geduld het met die jare darem bietjie toegeneem. Dis my voete. In die winterskoene.
Kyk, my gemaklikste stewels kan soos ‘n droom voel as ek dit die oggend aantrek, maar as ek eers moes staan, dan begin my skroefvoet vir my aankla van kindermishandeling.
Outomaties verplaas ek dan my gewig na my gesonde voet, wat binne ‘n paar minute dieselfde klaagliedere as die skroefvoet hef.
Teen die tyd wat ek by die kantoor gekom het, toe voel daardie gemaklikste van gemaklike stewels van my soos lood aan my voete en ten minste twee nommers te klein.
Toe doen ek maar wat ek desjare gelede gedoen het as teller in die bank. Ek trek my skoene uit. Weet nie hoe is ek veronderstel om te dink as my voete seer is nie.
Destyds het my ma, wat ook senior teller was, amper ‘n oorval gekry toe sy sien ek skarrel kaalvoet rond. Daardie jare het ons nog agter die toonbank gestaan en ordentlike hofskoene was ‘n moet saam met jou uniform.
As ek nie eens my gunstelingwerk, dit wil sê skryf, kan doen as my skoene druk nie, hoe het sy verwag moet ek syferwerk, wat ek die meeste haat, doen?
Dis regtig een van die dinge wat ek die meeste verpes van die winter. Die toe skoene. Ek is op my gelukkigste kaalvoet.
Oorle Pa het altyd geraas as ek wintertyd so kaalvoet op die teëls loop. Dan het hy sy pantoffels vir my aangedra wat ek na vyf minute weer uitgeskop het.
Seer voete voel net beter as hulle nie deur skoene beperk word nie en basta met die res. Die koue kan ek hanteer, maar die winter se kort dae sit my ore aan.
Donker opstaan is moeilik vir my wat onder geen omstandighede as ‘n oggendmens geklassifiseer kan word nie. Mens is skaars terug by die huis na werk of die son is al weer weg en met die liewe Eskom saam baie maal sommer die krag ook.
Gelukkig is daar goeie dinge in die winter ook, soos warm sop, sagte komberse, lemoene en naartjies… net jammer ons mag nie meer die skeidsregters daarmee gooi nie. Sela!
