Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek beny die honde hul laat slaap, maar geniet dit om weer kantoorjoggie te wees.
RUBRIEK. – Hoe korter die dae word, hoe later slaap Kleinsus Antjie. Kyk, daar is nie ‘n manier wat sy haar neus by die komberse uitsteek alvorens die son nie behoorlik skyn nie.
Dan is dit ook net omdat die nood druk en sy moet uit. Merkwaardig hoe vinnig sy weer op haar drie werkende bene kan inhardloop daarna.
Ek beny die honde wat so lekker laat kan lê en bak in die winter. My selfoon se alarm gaan daagliks 06:00 af, want dit vat amper ‘n halfuur net vir daardie eerste beker koffie om in te skop.
Dis nou as ek nie die slag deur die alarm slaap en eers 06:45 wakker skrik nie. Die afgelope paar winters het ek menigmaal met koffie in die hand in my warm pajamas gang afgestrompel en my rekenaar in my “tuiskantoor” aangesit.
Veel later dan eers by stort en aantrek uitgekom, maar die werk was gedoen. Waar is die dae wat wanneer ek so uit die badkamer gekom het, ‘n geroosterde kaas- en eierbroodjie saam met ‘n beker koffie langs my bed of op my lessenaar gewag het?
Pa was altyd bekommerd as ek nie by ontbyt eet uitgekom het nie en ek het gereeld so in die middel van die oggend iets te ete gekry.

Volgende maand is Pa ook al twee jaar nie meer met ons nie, en daar verskyn nie meer geroosterde broodjies langs my bed of tuisgebakte pasteie in my kosblik nie.
Ek mis hom, baie. Nie vir alles wat hy altyd gedoen het nie, maar sommer net vir die mens wat hy was. Sien hoeka Vadersdag kruip alweer nader… ek sal dit maar net ignoreer.
Allegeval, ek kan nou se dae nie meer net in die gang afsluip en agter my laptop gaan wakker word nie. Ek is mos weer ‘n kantoorjoggie.
Elke oggend is dit ‘n hele gedruis soos ek goed bymekaar hark om saam te vat kantoor toe. Ek lyk soos ‘n pakdonkie met my grote sak, laptopsak en kamerasak oor die skouers en in die winter gewoonlik nog ‘n baadjie ook.
Vroegoggend is daar baie parkeerplek by die werk en dan kry ek naby aan die ingang parkering.
Synde ‘n joernalis gebeur dit nie baie dat ek heeldag op kantoor is nie, êrens moet ek gewoonlik die pad vat vir ‘n onderhoud.
Kom ek terug, dan weet ek, ek gaan daar doer ver moet stop. Nie ‘n probleem as ek ingaan nie, het gewoonlik net my kamerasak oor die skouer.
Dis wanneer ek laatmiddag uit die kantoor strompel in volle pakdonkie-mode wat ek wens my ou Mich kon soos Knight Rider van ouds se KID net op my stem reageer en my kom haal.
Ook my eie skuld ek dra so swaar. Einde verlede jaar toe Eljse die opname doen oor wie wil watter dagboek hê, het ek in ‘n oomblik van absolute waansin gevra vir ‘n A4-dagboek.
Mensig, daai ding is swaar. Laat mens nou 352 dae betaal vir die een ou foutjie. Glo my volgende jaar vra ek vir ‘n A5.
Ek weet. Ek weet. Met die slimfone saam kan mens alles op jou foon doen van afsprake maak tot by notas, maar ek is nog pure 20ste eeu en glo daaraan om alles neer te skryf in ‘n regte dagboek.
Selfs as ek onderhoude doen, gryp ek notaboek en pen. Sal my skoon benoud maak as ek eers moet probeer uitvind hoe ek ‘n gesprek op my foon moet opneem.
Haal in allegeval al die lekker uit die onderhoud. ‘n Mens wil darem so bietjie “off the record” kan gesels ook, veral as daar koffie byderhand is.
Ten spyte van die swaar dra, is dit lekker om weer kantoorjoggie te wees en die ander afdelings se mense te sien, hul stories te hoor en net tydjies af te knyp vir gesels.
Ek moet myself net leer om beter toebroodjies vir middagete te pak…. Sela!
