Local newsNewsNews

Waar Bruno is gebeur daar altyd iets

Bruno is een van Vaalpets se "inwoners". Hy wil graag aangeneem word. Hier is sy storie.

VANDERBILJPARK. – Die storie van Bruno raak aan mens se hartsnare. Die arme hond is in Maart 2022 saam met twee ander honde gevind.

Hy was aan ‘n een meter lange ketting aan ‘n paal vasgemaak met geen kos, water of skuiling in sig nie. Vaalpets se Danielle van Rooyen het haar oor die honde ontferm.

Vaalpets se Danielle van Rooyen saam met Bruno

Die ander twee hondjies het huise gevind, maar Bruno het by die hondeskuiling gebly. Jeanine Freemantle van Vaalpets sê hul het geweet Bruno sou ‘n ander hond wees as iemand hom net kon wys wat is geduld en liefde.

Pleegsorg

Meer as ‘n jaar nadat hy gered is, is Bruno in pleegsorg geplaas by Johann wat by die Highveld Horse Care Unit in Meyerton werk. Johann bly op die plaas, maar sy erf is toegespan met palasade heinings.

‘n Week later het Johann laat weet hy wil graag vir Bruno aanneem. Maar die vreugde was van korte duur. Sondag, 4 Junie het Jeanine ‘n boodskap gekry dat Bruno ‘n manier gevind het om uit die erf te kom.

Daar is ekstra stene gepak om te keer, maar dit het nie gehelp nie. Die moeilike besluit is geneem dat Bruno moes terug gaan na Vaalpets toe.

Op pad na die huis, het Bruno besluit hy wil nie deur die hek loop nie, maar eerder onder deur die draad klim – die heining het hom geskok en Bruno het gehardloop.

Bruno is weg!

Jeanine sê sy het dadelik Vaalpets se hoof hondehanteerder gaan haal en hulle het deurgejaag Meyerton toe om Bruno te gaan soek. Ongelukkig is Bruno teen daardie tyd deur nog ‘n heining en was hy êrens op ‘n ander plaas in die lang gras.

Die gebied waar Bruno weggeraak het. Hommeltuigfoto deur Charl van Straten.

‘n Paar uur later moes die soektog eers gestaak word. Jeanine het op Facebook die mense laat weet dat Bruno weg is en ‘n R2 000 beloning aangebied.

“Die volgende oggend het Charl van Straten van Charlvanstraten productions geoffer om sy hommeltuig (drone) te bring. Die area is so groot ons het nie ‘n idee gehad waar om te begin nie,” vertel Jeanine.

Saam met vrywilligers en Vaalpets werkers het hul die area begin fynkam. Die soekgeselskap moes vir ‘n tweede dag met leë hande omdraai met die wete dat Bruno nog ‘n nag alleen in die veld gaan deurbring.

“Die volgende oggend het ek vir Healthy Hound Missing Pet Search and Rescue gekontak. Hulle was wonderlik en baie behulpsaam.”

Jeanine sê met hul hulp het hulle ‘n nuwe plan van aksie gevolg. Rou kos is in die area neergesit in die hoop dat Bruno dit sou eet. Die plan was om dit vir twee dae te doen en hom op die derde dag te probeer vang.

Die kos was skaars uitgesit toe kom die goeie nuus. Hulle het Bruno gekry, hy is veilig.

Ashley tot die redding

Ashley Ness wat saam met Johann werk het die oggend uitgegaan om te kyk of sy hom nie sien nie. Hy was op ‘n ander plaas, maar naby aan die draad.

Sy het rustig gebly, mooi met hom gepraat en toe sy ‘n geleentheid kry, hom gegryp. Sy het hom al die pad terug gedra.

Jeanine vertel: “Ek het dadelik in my kar gespring en hom gaan haal.” Ashley het die beloning terug geskenk aan Vaalpets. Bruno is bederf met ‘n lekker bord kos.

“Bruno is nou baie meer oop teenoor mense. Hy het my opgesoen by die shelter en na my toe gekom,” het Jeanine opgewonde laat weet.

Bruno kort ‘n huis – met ‘n stewige heining

Nou kort Bruno net iemand met ‘n stewig toegespande erf om hom deel van die familie te maak.

Indien jy graag vir Bruno of een van die ander honde by Vaalpets wil aanneem, kontak vir Jeanine by 064 901 0964.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button