Local newsNews

Dante Chan Christen-sentrum vier sy 11de jaar

Donasies sal baie waardeeer word en kan direk by die sentrum in Gillstraat, Vanderbijlpark afgelewer word.

VANDERBIJLPARK. – Die Dante Chan Christensentrum in Gillstraat, CW2, vier op 1 Julie sy 11de verjaardag.
Die sentrum in Westcliff House in die Bequerrel-winkelsentrum is in 2012 deur kaptein Alwyn Wilken, verbonde aan die SAPD in Vanderbijlpark, geopen nadat hy die groot nood onder die behoeftige en hawelose gemeenskap in die gebied raakgesien het.
Die sentrum het as ‘n klein winkeltjie begin en het intussen tot ‘n volledige Christelike bediening gegroei, waar verskeie ondersteuningsdienste van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 12:00 gelewer word. Tot soveel as 300 mense ontvang daagliks ‘n bord kos hier, en klere en komberse word ook aan hulpbehoewendes verskaf. Die sentrum beskik ook oor ‘n volledige kerk en dienste word elke Sondag om 09:30 aangebied.

Dit is ‘n groot droom van kaptein Wilken om genoeg fondse te genereer om ‘n gebou te koop om nie net die bestaande dienste te verbeter nie, maar ook om ‘n “night shelter” te open waar hawelose mense saans ‘n warm stort kan kry en ‘n bed om in te slaap.
“As gevolg van die land se ekonomiese toestand en werkloosheid wat aan die orde van die dag is, word die sentrum daagliks oorval deur arm, behoeftige en hawelose mense, in so mate dat ons sukkel om aan al die behoeftes te voldoen. Die sentrum wat as ‘n nie-winsgewende maatskappy geregistreer is, is totaal afhanklik van donsasies om sy deure oop te hou. Die sentrum benodig maandeliks sowat R10 000 vir die huur, water en elektrisiteit. Ons is ook afhanklik van donasies in die vorm van nie-bederfbare voedsel, groente en goeie, gebruikte klere, komberse en speelgoed, sê kaptein Wilken.

“Bo en behalwe dit moet ons ook die sentrum self in stand hou. Ons benodig tans die dienste van ‘n elektrisiën om klein elektriese werkies te doen. Dan is daar ook ‘n veiligheidshek wat vervang moet word, ‘n muur wat geverf moet word en los en gebreekte vloerteëls wat herstel moet word.”
Die sentrum wil graag elke individu, sakeonderneming, kerk, skool en organisasie wat ‘n donasie, hetsy geldelik of in die vorm van voedsel, klere of speelgoed geskenk het, bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Die publiek word genooi om enige tyd die sentrum te besoek, of hulle nou hulp nodig het of net wil kom kyk wat hier gedoen word.
* Donasies sal baie waardeeer word en kan direk by die sentrum in Gillstraat afgelewer word. Geldelike bydraes kan inbetaal word by: Dante Chan Sentrum, Standard Bank, Rekeningnommer: 10148677965. Vir navrae kan Alwyn Wilken geskakel word by 074 171 6503.

Die Dante Chan Christensentrum verskaf tans kos aan sowat 300 behoeftige mense wat om hulp by die sentrum kom aanklop.

 

Kaptein Alwyn Wilken en sy vrou, Trudie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button