Vincent – ‘n Kitaar maestro in wording
Ontmoet een van die Hoërskool Vaalpark se sterre, Vincent van Schalkwyk.
VAALPARK. – Vincent van Schalkwyk. Onthou die naam, want die talentvolle jongman gaan dit nog ver bring.
Vincent het hierdie jaar skoonskip gemaak by die National Eistedfodd Academy se Young Performer Awards. Nie net het hy met sy uitsonderlike kitaarspel goud verower in sy ouderdomskategorie van gr.10 – 12 nie, hy is ook as die algehele wenner aangewys.

Vincent is tans ‘n graad 11-leerling aan die Hoërskool Vaalpark. Hier is hy nie net een van die musiekskool se sterre nie, hy blink ook uit in rugby en krieket en speel eerste span in beide sportsoorte.
Musiek, en dan spesifiek die kitaar, is sy groot passie en eerste liefde. Hy het reeds in graad 2 begin kitaarlesse neem. “My ma is ‘n musiekonderwyseres en sy het my eers blokfluit lesse laat neem, maar ek wou net kitaar speel,” vertel hy.
Hy het vir jare kitaarlesse by Elizna Dempers geneem alvorens hy in 2019 met professionele lesse by die gevierde kitaarspeler, Abrie Jordaan begin het.
Onlangs het hy sy graad 8 kitaareksamen met 87% geslaag. Sy musiekonderwyseres, Corli Jannasch by Hoërskool Vaalpark sê sy is baie trots op hom.
“Vincent werk baie hard en hy oefen al vir jare. Hy pluk nou die vrugte van al sy harde werk.”
Na die eiestedfodd is Vincent deur die Vrystaat Simfonie Orkes genader om ‘n solo kitaarstuk te oefen om later die jaar saam met hul op te voer.
Hy is ook genooi om aan die Unisa beurskompetisie in Oktober deel te neem. ‘n Voorreg wat nie baie jong musikante beskore is nie en volgens sy kitaaronderwyser, Abrie Jordaan is dit die eerste keer wat ‘n kitaarspeler na die kompetisie uitgenooi word.
Hy sien uit daarna om later vanjaar aan die Nasionale Kitaar Eistedfodd in Pretoria deel te neem. Na matriek wil hy graag musiek aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.
Vincent se kosbaarste besitting is sy kitaar wat spesiaal vir hom deur die bekende kitaarmaker van Meyerton, Hans van den Berg, gemaak is.
“Ek is baie trots op die kitaar. Ek dink dit was die 92ste een wat Hans gemaak het.”
Die kitaar het al baie belangstelling uitgelok en Vincent vertel hoe die kitaarmeester, James Grace op ‘n keer sy kitaar vir twee weke geleen het toe hy opvoerings in Gauteng en die Vrystaat gedoen het.
“Ek het James Grace die eerste keer sien optree by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg toe ek in graad 5 was. Dit was net ongelooflik en van toe af het ek my kitaar nog ernstiger opgeneem,” vertel hy.
Corli vertel dat Vincent, nes James Grace, die manier het om homself totaal en al van die buitewêreld af te sluit as hy die kitaar begin speel, maar terselftertyd dit regkry om sy gehoor in sy wêreld in te trek en mee te sleur.
Naas sy musiek, bly sy akademie ook op goeie vlak en neem hy ook aan judo deel. So het hy al goud in judo by die Suid-Afrikaanse Judo kampioenskappe verower en het hy in Augustus 2022 aan die Afrika kampioenskappe deelgeneem.
Hy is ‘n Judo Kurash kampioen en het al in Pole aan die Junior Wêreld Kata Kampioenskappe deelgeneem.
Sy liefde vir sport gee sy ma en sy musiekonderwysers bietjie grys hare, want hulle is altyd bang dat hy dalk sy hande kan beseer en sodoende ‘n belowende musiekloopbaan kan kelder.
Daaraan steur Vincent hom nie veel nie, hy geniet sy judo, rugby en krieket en beduie gou dat hy tot dusver nog net sy twee pinkies bietjie verstuit het.
Hy gym graag en sy oggende begin al hier by 04:30. “Ek kry alles in ‘n dag ingepas,” trek hy skouers op oor sy goeie tydsbesteding. Een ding is verseker as hy die dag regtig moet kies, sal sy kitaar loshande wen bo enige ander tydverdryf.
