Local newsNews

Groot vriendekring beplan afskeidskuier vir wyle Ryno

Omdat hy so 'n gesellige kuiermens was, is dit presies hoe sy familie en vriende hom gaan groet - met 'n lekker kuier waar hulle dié geliefde man se lewe met mooi herinneringe gaan vier

VANDERBIJLPARK. – Waar Ryno Labuschagne ook al was, daar kon jy altyd musiek, lag en vrolikheid in die lug hoor. Sy gesin en groot vriendekring moet nou aan die gedagte gewoond raak dat dié lewenslustige 35-jarige man nou stil is nadat hy verlede Vrydagoggend in ‘n motorongeluk omgekom het. Die tragedie het omstreeks 01:00 die nag in Frikkie Meyerboulevard plaasgevind.

Ryno is op 26 Januarie 1988 in Vanderbijlpark gebore, het hier grootgeword en aan HTS Carel de Wet skoolgegaan. Hy was dwarsdeur sy lewe ‘n entrepreneur en het sy eie staalonderneming gehad. Met sy groot liefde vir musiek was hy ook van jongs af ‘n bekende klankman wat gereeld vir musiek by troues, ander vieringe en karaoke-aande in die Vaaldriehoek en buite die gebied gesorg het.

“Hy was baie vredeliewend en sou altyd die ekstra myl loop vir ‘n ander mens, selfs al moes hy homself tekort doen. Hy het daarvan gehou om mense te help en was besonder geheg aan sy vriende. Hy het altyd ‘n grappie of twee gehad en was baie lief vir sport – veral rugby,” sê sy ma, mev. Jacomien Labuschagne.
Ryno was enkellopend en word buiten sy ma ook oorleef deur sy broers, André en Pierre.

Omdat hy so ‘n gesellige kuiermens was, is dit presies hoe sy familie en vriende hom gaan groet. Die geleentheid, wat hulle “Ryno se finale kuier” noem, word 15 Julie om 12:00 by Umgenistraat 9, Drie Riviere, gehou. Almal wat hom geken het, is welkom om ‘n vleisie en ‘n slaai sowel as stoele saam te bring vir Ryno se afskeidskuier. Jacomien vra dat mense wat dit gaan bywoon, haar asseblief teen 8 Julie kontak by 083 711 2311.

 

Wyle Ryno Labuschagne.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button