Leomand (9) se kookwater gholfseisoen
Hy het reeds die bynaam van Leomand "Lefty" Jacobs op die gholfbaan, maar sy opponente is lugtig vir die 9-jarige se perfekte afslane.
VANDERBIJLPARK. – Hy het onlangs 9 jaar oud geword, maar Leomand Jacobs is ‘n gholfkampioen by uitstek.
Nadat hy verlede jaar aan toernooie begin deelneem het, het hy hierdie jaar behoorlik spoed opgetel.
Die jaar is nog nie halfpad nie en hy het reeds agt toernooie van die SA US Kids agter die rug. Daarvan het hy ses toernooie gewen en in twee ‘n tweede plek behaal.

By die US Kids se SA Ope, ook bekend as The Big 5, het hy skoonskip gemaak en met vyf houe gewen. Daarna is hy uitgenooi om aan die US Kids se Wêreldkampioenskappe deel te neem.
Slegs die top twee van elke land word uitgenooi om hul talente by die toernooi op die proef te stel. Sy ouers het egter besluit hy is nog veels te jonk om oorsee deel te neem en vir eers word daar gefokus om al die toernooie op eie bodem kaf te slaan.
Hy is na die toernooi ge kies as lid van die Suid-Afrikaanse span wat op die laaste dag teen ‘n internasionale span meegeding het. Sy pa, Armand vertel dat die 16 top spelers van die toernooi elke jaar gekies word om as ‘n SA span en ‘n internasionale span teen mekaar af te slaan vir die Geerts Cup.

Leomand was na vyf gate vier op, maar het koelkop gebly en uiteindelik na ‘n senutergende 9 putjies as wenner uit die stryd getree.
Onlangs het hy aan die Inter-Provincial u/11 tournament Huddle Park deelgeneem as deel van die Gauteng B span, waar Gauteng A en B onderskeidlik eerste en tweede plekke behaal het.
Leomand het onder die top 10 klaargemaak. “Hy was die top speler in die B-span en het beter as die helfte van die A-span se spelers gevaar. Dit was oor 18 gatjies gespeel en nie sy gebruiklike 9 nie,” het Armand trots vertel.
Leomand is deel van Heron Banks Golf Course se junior liga waar hy gereeld teen 17 en 18-jariges meeding en hul al gewen het. Dan het hy ook die US Kids Gauteng Seisoen met 60 punte in sy ouderdomsklas gewen.
Alhoewel hy op die stadium vasberade is om eendag ‘n professionele gholfspeler te word, sorg sy ouers, Chantél en Armand, dat hy nie al sy tyd en aandag aan gholf spandeer nie.

Leomand is tans ‘n graad 3- leerling aan die Laerskool Kollegepark, waar hy ywerig aan rugby deelneem en beslis weer sy hand die jaar aan krieket gaan waag.
“Ek was kaptein van die o.9 Iron Men span, maar ons het in die finaal verloor teen Risiville,” vertel hy. Sy ma wil hê hy moet aan kulturele aktiwiteite ook deelneem, maar hy is nog nie heeltemal oortuig nie. Sport is eerder sy kos.
So klein as wat Leomand is, so sterk is sy geloof. Hy merk al sy gholfballe met ‘n blou kruisie bo om aan te dui dat die Here eerste kom in sy lewe, dan gholf en dan hy.

Die jongman verstaan reeds dat gholf ‘n “gentleman’s game” is en is bekend daarvoor dat hy altyd konsekwent speel en opreg sy medegholfspelers aanmoedig.
Sy volgende groot toernooi is die SA Kids Afrika Ope wat van 21 – 25 Augustus by die San Lameer Gholfbaan aan die KwaZulu-Natalse suidkus plaasvind.
