Johan Prinsloo – positief, vasberade met goeie skoot humor
Hy was vir jare deel van die Hoërskool Fakkel se lief en leed, maar voormalige hoof, Johan Prinsloo is steeds bedrywig in die gemeenskap.
VAALPARK. – Met ‘n motto van ‘as jy so dink, dan is ek ok’, pak Johan Prinsloo die lewe dag vir dag met oorgawe aan.
“Dit was nog altyd so, as iemand vir my gesê het dit kan nie, of jy gaan dit nie regkry nie, dan het ek myself aan my motto herinner en dit gedoen.”
Dié oudskoolhoof van die Fakkel School of Skills in Sasolburg is jare na sy amptelike aftrede steeds voltyds doenig in die gemeenskap en by die kerk.
“Ek is juis besig om weer te help organiseer aan Public Eye se jaarlikse rolbaldag om fondse in te samel. Ons mikpunt is R50 000,” vertel hy met ‘n glimlag. Dan is daar nog die kerk se jaarlikse rolbaldag ook.
Sport het hom al die jare na aan die hart gelê. Hy was in die 1980’s by landloop in Sasolburg betrokke en het in 1988 saam met sy goeie vriend, Danie Badenhorst, onder meer Sasolburg se enigste Excella Senior Kampioenskap gereël.

Johan was ook een van die stigters van Spesiale Skole Atletiek. Dis waar sy passie al die jare in die onderwys gelê het, by Spesiale Skole.
Dié boorling van Senekal in die Vrystaat het na matriek onderwys aan die voormalige Bloemfontein Onderwyskollege studeer. Sy eerste onderwyspos was in Ficksburg.
“Ek was altyd betrokke by die spesiale klasse,” onthou hy. “Dit verander natuurlik heeltemal jou siening oor kinders. Ek het geleer om ‘n kind te sien soos wat hy kan wees, nie soos wat die kind gestempel is nie. Deur al my jare in die onderwys het ek aan drie pilare gewerk. Dit was om die kinders se selvertroue, selfbeeld en menswaardigheid te bou.”
Johan het hom in 1979 by die Fakkel Skool se personeelkorps as departementshoof aangesluit. “Daardie jare was die skool bekend as die Voorberoepskool en later as Sasolburg Spesialeskool.”
Vir die volgende 17 jaar was hy deel van die skool se lief en leed totdat hy in 1996 as hoof by die skool klaargemaak het. Daarna is hy aangestel by die distrikskantoor waar hy skoolbestuur en beheerlliggaamontwikkeling behartig het en vanaf 2012 tot en met sy aftrede in 2017 in beheer was van die ontwikkeling van spesiale skole.

Deurentyd was sy vrou, Frelma en goeie vriend, Danie Badenhorst daar en het hul verskeie projekte saam aangepak. “Op ‘n stadium het ek in Harrismith skoolgehou en ons het die Harrismith Bergwedloop gereël, sonder dat ek self ooit op die berg was,” lag hy.
Die projekte wat hom die naaste aan die hart lê is steeds die wat onder sy leiding by die Fakkelskool tot stand gekom het.
“Ons het een jaar ‘n fietstoer vir ‘n groep leerlinge van Sasolburg na Ficksburg gereël. Mnr. Claasen Malan was nog die burgemeester van Sasolburg en hy het ‘n brief geskryf wat ons aan die burgemeester van Ficksburg moes oorhandig.
“In Ficksburg is daar vir ons ‘n onthaal gereël en ek het dat die leier van die fietsgroep die brief oorhandig,” vertel hy. “Dit het vir die leerlinge so baie beteken.”
Dit was ook in sy tyd wat die skool se leerlingraad en eerste rugby- en netbalspanne kleurbaadjies gekry het. “Ons het hulle geleer om altyd netjies te lyk, want in die werksituasie moet mens netjies wees.”
Hulle het ook ‘n tradisie begin waar die eerste spanne op Vrydae voor wedstrydnaweke met hul kleurbaadjies met vlae in die skoolsaal verwelkom is terwyl Danie Botha se ‘Wenners’ gespeel het.
Hy onthou ook die tyd wat die skool ‘n almanak laat druk het en hy en die leerlingraad een vir die destydse minister van onderwys by sy kantoor in die Uniegebou gaan oorhandig het.
“Daardie klas van blootstelling het ‘n ongelooflike invloed op die kinders se selfbeeld en selfvetroue gehad. Ek het die leerders ook oral ingespan om diens te doen, van die groot atletiekbyeenkomste tot by departementele werkswinkels. Daardie kinders het geblom.”
Johan glo dat elke mens sy eie ‘dash’ skryf. “Jy weet elke mens het ‘n geboortedatum en ‘n sterfdatum en daar is ‘n strepie tussen die twee datums, dis die ‘dash’ waaraan jy self skryf.”

Nie dat sy eie lewe sonder seer kronkeldraaie geloop het nie. In 1996 is hy met nierkanker gediagnoseer en is sy een nier verwyder. Waar ander sou gaan lê het, het Johan besluit om positief te bly en self by CANSA betrokke geraak.
“Ons het saam met Thea Loggerenberg daardie tyd ‘n oggendtee vir 500 vroue gereël. Janie du Plessis was nog die gasspreker en ons het dat almal wat Sasolburg op daardie stadium al nasionaal verteenwoordig het, met vlae ingestap kom. Dit was ‘n ongelooflike oggend,” vertel hy met oë wat glinster.
Dit was ook in die tyd wat hy besef het hoeveel mense sukkel met mediese onkostes, selfs al het hul mediese fondse. “Ons het toe ‘Aksie Hande Vat’ gestig en vir ‘n hele paar jaar ywerig geld ingesamel om mense te help, onder andere vir wyle Adam Barnard.”
Ses jaar gelede was hy en Danie ook betrokke by die stigting van die Silwer Valke. Die groep bestaan uit pensioenarisse wat elke eerste Woensdag van die maand saam ontbyt eet en kopstukke gesels.
“Jy weet, jy moet jou eie ding doen. Dis ook belangrik om positief te bly. Net jy kan bepaal hoe jy op iemand gaan reageer.”
Van rustiger raak is daar nog geen sprake nie. Johan en Frelma het vier kinders en nege kleinkinders wat hul goed besig hou.
“Drie kleinkinders woon in Nieu-Seeland en ons het al twee keer daar gaan kuier. Die ses in Suid-Afrika is ook baie talentvol en blink oral uit en natuurlik moet ons gaan kyk,” vertel Oupa trots.
“Ek sê mos altyd, so lank as wat jy kan, moet jy beweeg en dinge doen. Dit maak die lewe mos lekker.”
