Adri Roos, nuwe Rotariër President
Adri Roos het so pas die leisels by die Rotariër Klub van Vanderbijlpark oorgeneem. Ons het gaan nader kennis maak.
SASOLBURG. – Die nuwe president vir 2023/2024 van die Rotariër Klub van Vanderbiljpark, Adri Roos is Woensdag, 21 Junie tydens ‘n glansgeleentheid by Stonehaven on Vaal ingehuldig.
Adri volg in die spore van vorige president, Celeste Lance en sê Celeste was die afgelope twee jaar haar mentor.
“Rita Benecke het my aan die Rotariërs voorgestel en ek was verstom oor die goeie werk wat die organisasie wêreldwyd verrig,” vertel sy.
Die nuwe president se hart klop warm vir mense en sy wil graag hoop bring. Rotary Internasionaal se tema vir die jaar is om hoop na die wêreld te bring en dit sluit 100% aan by haar doelwitte vir die jaar om ‘n verskil te maak.
Adri glo daaraan om voluit en positief te leef en soek altyd die mooi in alles. “Dis belangrik dat ons, veral na die pandemie, weer leer om die mooi oral raak te sien. Dis altyd daar, ons moet dit net soek.”
Sy is in Frankfort gebore en het haar skoolloopbaan in Kragbron begin en voltooi.
Na matriek het sy in die bankwese ingegaan en vir die volgende 40 jaar was sy deel van die groter Standard Bank familie in verskeie hoedanighede.
“Ek was nog altyd mal daaroor om met mense te werk en het al die jare ‘n hartklop vir die kliënt gehad,” vertel sy.
Sy onthou hoe sy as kind eendag ‘n ou bankgebou gesien het met die naam op ‘n plaatjie teen die muur.
“Ek was, en is, gek na antieke goed en daardie ou sandsteengebou het ‘n groot indruk op my gemaak. Ek dink dis waar ek besluit het ek wil eendag in die bank werk,” onthou sy.
Wanneer haar lierfdadigheidsprojekte en werk as makelaar dit toelaat, geniet sy en haar man, Paul vakansies in die Bosveld.
“Ek hou van die rustigheid van ‘n kampvuur en geniet die natuur, maar ek kamp nie,” lag sy. Sy erken sy is bietjie van ‘n adrenalien junkie wat enige tyd weer sal “sky dive”.
Haar jare se ondervinding in bestuurposisies, saam met haar passie vir mense en die oorgawe waarmee sy alles aanpak, gaan haar handig te pas kom in haar jaar as president van die Rotariër Klub van Vanderbijlpark.
“Ons kan altyd doen met nog Rotariërs in die lewe. Dis vir my ‘n riem onder die hart dat al meer Sasolburgers by Rotary aansluit, een van die dae kan ons dalk ‘n klub aan die Vrystaatkant ook stig.”
“Ek het groot skoene om vol te staan, maar hierdie is vir my ‘n droom wat werklikheid geword het en ek gaan die verantwoordelikheid en geleentheid met albei hande aangryp.”
