Pas op, Big Apple, hier kom ons Vaaldriehoekse modelle!
"Ek sien 'n skitterblink toekoms vir hulle," sê Juanita Oosthuizen, eienaar van Chantenique en direkteur van Show Your Talent SA.
Vir drie beeldskone modelle van die Vaaldriehoek word hul kleintyd-drome binnekort waar wanneer hulle na Amerika vertrek om aan twee gesogte internasionale wedstryde te gaan deelneem.
Alicia Olivier, Kaley van Greune en Mikayla Roos is almal verbonde aan die bekende Chantenique Afronding- en Sjarmeskool. Hulle het in 2022 deelgeneem aan Show Your Talent, ‘n nasionale kompetisie wat die Uitvoerende Kunste na ‘n internasionale vlak neem met modelwerk, dans, drama, sang en kreatiewe werk. Die drie Vaaldriehoekse modelle is met goue toekennings asook “High Gold” in die verskillende afdelings beloon en is genooi om vanjaar in New York aan Talent America te gaan deelneem.
“Kort daarna is die drie jong dames ook ‘gescout’ vir Pageant America, wat ons harte nog vinniger laat klop het,” sê Juanita Oosthuizen, eienaar van Chantenique en direkteur van Show Your Talent SA.
“Hulle vertrek vroeg in Julie na New York om aan albei hierdie groot kompetisies, Talent America sowel as Pageant America, te gaan deelneem. Dit is baie harde werk en hulle sit baie voorbereiding in voor hul vertrek na The Big Apple,” sê ‘n trotse Juanita.
Afdelings waarin hulle onder andere kan deelneem, sluit in: Casual, Formal, Avant Garde, High Fashion, Fashionista, Models Choice, Comp Cards, Talent, Fitness, “Spokes” en Photogenic.
Juanita sê sy het volle vertroue in die pragtige modelle en hul wenkanse in die buiteland. “Ek sien ‘n skitterblink toekoms vir hulle,” sê sy opgewonde.
* Jongmense van die Vaaldriehoek word herinner aan die talentwedstryd wat van 4 tot 12 Augustus by Curro Vanderbijlpark aangebied word. Besoek www.showyourtalent.co.za vir meer inligting hieroor.





