Local newsNewsNews

Romanse soos in ‘n Hollywood fliek

ʼn Storie so reg uit ʼn Hollywood rom-com. Die Malans is vanjaar 54 jaar getroud, maar dis die begin van hul verhaal wat die hartsnare roer.

VANDERBIJLPARK. – Frik en Rina Malan se storie klink soos iets direk uit ‘n Hollywood rom-com. Dit het alles in 1969 begin toe Frik een goeie dag in Junie vir Rina se broer ‘n saamrygeleentheid op sy motorfiets gegee het.

Beide was toe tronkbewaarders. Rina het die lang man in sy uniform van ver af bewonder en op sy beurt het Frik ook dadelik die mooi Rina raakgesien. ‘n

Week het verbygegaan voordat hy die geleentheid gekry het om haar te ontmoet. Dit was 13 Junie. Vir beide was dit liefde met die eerste oogopslag.

So hoog het Frik die skoot deurgehad dat hy haar 15 Junie gevra het om te trou. Soos Rina sê: “Daar was nie tyd vir nee sê nie!”. Sy het hom dadelik die ja-woord gegee.

“Dit was al laataand en my ouers was in hul kamer. Frik is dadelik kamer toe om te gaan ouers vra,” onthou sy. Dis net hier waar daar ‘n reuse kinkel in die kabel ontstaan het.

Rina se pa het glad nie gedink dis ‘n goeie idee nie. Ten eerste het hy sy dogters toe al vir jare gewaarsku om onder geen omstandighede met motor fietsryers deurmekaar te raak nie, en tweedens het sy die man dan nie eens geken nie.

Haar pa het dadelik sy rewolwer uitgepluk en Frik het summier spore gemaak. Maar, die liefde laat hom nie stuit nie. Twee dae later het hy ‘n boodskap by Rina uitgekry om hom by die hek te kry en saam met hom weg te loop.

“Ek het letterlik net my ID en geboortesertifikaat in my handsak gegooi en een stel skoon onderklere,” lag Rina vandag. Daarna het sy haar kans afgewag, die handsak deur die venster gegooi en by die voordeur uitgeloop.

Die twee verliefdes het besluit om na sy ouers in Coligny te ry en daar te trou. Ongelukkig het sy ma hul ingewag met die nuus dat haar pa op pad is met sy sweep en rewolwer.

Die twee het weer die pad gevat. “Ons het langs die pad in die kar geslaap, maar dit was vreeslik koud,” vertel Rina. Hulle is in die nag verder vort, rigting Pretoria. In die vroeë oggendure het hul by die Voortrekkermonument gestop en weer bietjie probeer slaap.

“Ek het maar ‘n dun rokkie aangehad en het nie eens daaraan gedink om ‘n trui te vat met die wegloopslag nie. Ons het die oggend ons gesigte met yskoue water gewas en toe die winkels oopmaak het ons vir my ‘n trourok gaan soek.”

“Ons het vir haar een gekry met driekwart moue vir 7 pond 10, dit was ongeveer R15,” neem Frik die storie verder. “Daarna is ons eers na die gevangenisdiens se hoofkantoor waar ek ‘n oorplasing gevra het Klerksdorp toe.”

Die aand het hul darem in ‘n hotel op Henley-on-Klip geslaap voordat hul vroeg die 20ste in die landdroshof getroud is.

“Twee klerke van die hof was die getuies. Ons het nie eens geld gehad om die trouliksens te betaal nie, maar die man wat ons ge trou het, het ons jammer gekry en dit namens ons betaal.”

Hulle is terug Sasolburg toe waar Frik gewerk het. Terug by die werk het een van die gevangenes, ‘n redakteur van beroep, die storie gehoor en summier die Rapport en Landstem gebel om die storie te vertel.

Die Malans het steeds die uitknipsel wat in een van die koerante van 1969 verskyn het

Kort voor lank het die storie in albei koerante verskyn. Die egpaar het vandag nog een van die koerantuitknipsels, maar het ongelukkig nooit neergeskryf in watter koerant die berig verskyn het nie.

Vrede in die familie is later herstel nadat die Malans reeds na Klerksdorp verhuis het en Rina swanger was met hul eersteling.

“Hy en my pa het later jare baie goed oor die weg gekom,” lag Rina wat vandag nog steeds so verlief is op haar ridder op sy ysterperd soos 54 jaar gelede.

Saam het die twee baie sakke sout geëet en moes hul die verlies van hul oudste seun wat op ‘n jong ouderdom gesterf het, verwerk.

Hulle het vyf kinders grootgemaak en vandag het hul agt kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Frik dra steeds vir Rina op die hande en sy beskryf hom as ‘n juweel en ‘n regte heer. “Hy maak nog deure vir my oop, is lief vir kosmaak en maak selfs my klere reg,” vertel sy.

Die egpaar woon al vir 15 jaar in die Pioneer House in Vanderbijlpark. Tot sowat vier jaar gelede het hul nog hul motor fiets gehad en gereeld op uitreike en ‘rally’s’ gegaan.

Naas hul motorfietsavonture, het die Malans oor die jare soveel as moontlik saam aangepak. “Ons het nog nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie,” beduie hulle.

Hul deel ‘n sterk geloof en help graag waar hul kan. Frik gee elke dag twee keer die wilde voëltjies kos en Rina bak nog haar eie brood.

Een ding is verseker, die twee se liefde het stand gehou en hulle sal alles weer dieselfde doen as dit moet, behalwe dat Rina dalk die keer sal onthou om darem ‘n trui ook in te pak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button