Mev. Elmiene Nel (97) oorlede
Vanderbijlpark moet hierdie week afskeid neem van een van die dorp se onderwys legendes, Mev. Elmiene Nel.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Elmiene Nel is 23 Junie rustig in haar slaap oorlede.
Sy en haar man, Gawie Nel was vir jare deel van die personeelkorps van die Hoërskool Vanderbijlpark. Die afgelope amper drie dekades het sy in Herfsoord tuisgegaan.
Mev. Nel het in November 97 geword en het altyd stories vertel oor haar studente- en onderwysdae.
Sy was ʼn biologie onderwyseres by uitstek en het ʼn groot impak gehad op al die leerlinge vir wie sy deur die jare klas gegee het.
Elmiene is gebore in die Vrystaat en het op ʼn plaas in die Koppies omgewing groot geword. Haar pa was hoof van die plaasskool.
Die klein Elmiene het op vier jaar al saam met haar pa skool toe gegaan omdat sy verveeld by die huis was.
Sy het matriek op ʼn jong ouderdom aan Potchefstroom Gimnasium geslaag en daarna B.sc met onder andere chemie as hoofvak by die destydse PU vir CHO gaan studeer.
Elmiene en Gawie Nel is op 1 April 1950 getroud. Kort na hul troue het Mnr. Nel ʼn pos by die Hoërskool Brandwag in Benoni aanvaar.
In 1957 het die gesin na Koster verhuis. In 1962 het hy ʼn pos by die Hoërskool Vanderbijlpark as biologieonderwyser aanvaar en Elmiene het by die destydse Laerskool Wording vir ʼn rukkie gaan skoolhou.
Kort voor lank was sy ook deel van die Bijler-personeelspan en die res is geskiedenis. Die egpaar het einde 1985 uit die onderwys getree. Mnr. Nel is in 2013 oorlede. Mev. Nel word oorleef deur haar drie kinders, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Haar dogter, Isabel Breedt het in ʼn telefoniese onderhoud gesê die familie wil net almal bedank wat deur die jare so ʼn groot en positiewe invloed op haar ma se lewe gehad het.
Mev. Nel se roudiens vind 29 Junie om 10:00 plaas by die die Trinitas Gemeente, Piet Retief-boulevard 42, SE6, Vanderbijlpark plaas.
