Plakkers skrop nes voor ingang van ryksmansenklave
Inwoners van Kubali Estate, ‘n veilige en rustige meenthuiskompleks aan die oewers van die Kliprivier, is raadop oor die nuwe intrekkers wat reg voor die meenthuiskompleks nes geskrop het.
VEREENIGING. – Voor die ingang van die meenthuiskompleks, vlak langs Ringweg in Risiville, is daar nou twee plakkers – blykbaar ‘n pa en seun – wat nes geskrop het en stelselmatig besig is om hul plakkershut al groter maak.
‘n Inwoner van Kubali Estate, wat duur betaal om daar te bly, vertel: “Hulle beweer hulle het toestemming van die munisipaliteit om daar te wees. Ons het al vir maande verskillende mense gevra om ons te help met die twee.”
“Hulle mag nie plak nie, maar hulle is tevrede. Ons is nie. Dit stink, dit lyk sleg en die gemors word by die dag meer,” vertel sy.
Inwoners is ook bekommerd, want die plakkers maak elke aand vuur en inwoners is bang dat dit ‘n brandgevaar inhou, veral nou dat dit winter is en die gras droog is.
“Dit word snags só koud langs die rivier. Daar word elke aand vuur gemaak. Ons is bekommerd dat die omgewing een van die dae kan vlamvat. Help asseblief,” soebat die inwoner.

