Local newsNewsNews

Ai Benny, ons gaan jou mis

Benny Janssen se begrafnisdiens vind vanmiddag om 14:00 plaas. Die begrafnis kan aanlyn gevolg word. Die skakel verskyn aan die onderkant van die huldeblyk.

VANDERBIJLPARK. – Hy was bekend as Coach Benny of Benny Swem. Die groot man met die klein hartjie.

Om swem af te rig was sy passie, vir elke kind het hy sy alles gegee. ‘n Swem gala sou hy net onder uiterste omstandighede misloop.

Gerda en Benny Janssen. Foto: verskaf

En nou is hy nie meer daar nie. Is sy plek langs die swembad leeg. Benny is Maandagoggend, 26 Junie oorlede nadat hy die afgelope maande siek was en baie pyn gehad het. Sy afsterwe laat ‘n groot leemte.

Op sosiale media stroom boodskappe van medelye, skok en hartseer steeds in. Dis duidelik dat hy baie gewild en geliefd was.

Die nuus het my totaal onkant gevang. My hart huil. Benny was nie net maar nog ‘n naam wat so nou en dan in die koerant verskyn het by swemuitslae nie.

Hy was nie net nog ‘n swemafrigter nie. Hy was baie jong swemmers se held. Hy was die een wat gehuil het as ‘n kind ‘n vrees vir water oorwin en begin swem.

Hy was die een wat geduldig vir my swemuit slae ontsyfer het. Die een met die groot hart. Onderhoude met hom was altyd rustig.

Sy glimlag nooit ver nie en altyd weerkaats in sy oë. En nou is hy nie meer daar nie. Ai Benny man. Jy gaan gemis word Ou Grote. Jou baie swemkinders huil.

Jou familie en vriende ook. Jy het ‘n positiewe impak gehad. ‘n Reuse impak. Twee jaar gelede het Benny in ‘n onder houd vertel hoe hy, op daardie stadium, 17 jaar gelede ingestem om tydelik uit te help as swemafrigter. Vir twee weke.

Die tydelik het permanent geword en hy het die swemafrigting beskryf as sy roeping. Hy het alles uit geloof en met die genade van God gedoen.

Benny was ontsettend lief en trots op sy vrou, Gerda. Die twee was onafskeidbaar en maak nie saak waaroor ons gesels het nie, êrens sou Benny my van sy pragtige vrou vertel.

Hy het altyd gelag omdat hy Engelsspre kend was en sy Afrikaans. Benny se pa is oorspronklik van Nederland en sy ma van die Verenigde Koninkryk, maar hy is gebore en getoë in Sasolburg.

Naas sy liefde vir swem, het hy ook graag fiets gery. Sy grootste passie en trots was altyd die jong swemmers van die Titans Aquatics Klub. Hy het oor elkeen met soveel deernis en trots gepraat.

Ek onthou nog hoe die groot man se oë geblink het van trane toe hy my eenkeer ver tel het van die 3jarige wat so bang was vir water. Die kind het met elke les gehuil.

Tot die dag wat die kleuter homself per ongeluk van die kant af weggestamp het in plaas daarvan om die kant raak te vat.

In sy eie woorde: “Ek het dit gesien gebeur en het asem opgehou. Die volgende oomblik het hy op sy rug gedraai soos wat ek hom geleer het en kalm vir my gewag.

“Ek was dadelik by hom en het hom net geprys omdat hy onthou het wat om te doen. Ai, en toe hy huis toe gaan toe sê hy: “Ek gaan nie weer huil as ek moet kom vir my swemles nie, Oom Benny.”

Voordat Benny hom op swemafrigting toegespits het, was hy op ‘n stadium ‘n lewensredder en lewensredderafrigter. Sy grootste avontuur was egter toe hy op 30jarige ouderdom besluit het om as kelner op die skepe te gaan werk.

Hy het in drie jaar die lande in die Balkan en die Karibiese Eilande leer ken en was so ver noord as Alaska.

Sy vrou, Gerda het in ‘n afskeidsboodskap aan hom gesê: “My lief is nou besig om die engele te leer swem. Jy was geliefd my man, SO baie! Jy het soveel impak gehad op soveel swemmers.

“I pray that your legacy will live on. Nou kan jy swem my lief. Swem soveel jy wil en ry jou fiets, my skat, trap hom!”

Benny se begrafnisdiens  vind 29 Junie vanuit die Kompas Gemeente in Vanderbijlpark plaas. ‘n Lewendige uitsending van die diens vind om 14:00 plaas. Volg gerus die skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button