Tot weersiens Freddie: Die Vaal groet ‘n staatmaker-sakeman
Die familie beplan om Freddie se lewe op 9 Julie saam met sy vriende te vier.
VANDERBIJLPARK. – “Let’s go, guys!” Met dié woorde, wat so eie aan Freddie Ludick was, kon hy nie net sy personeel aanmoedig om groot hoogtes te bereik nie, maar ook spanne aandryf om verskeie suksesvolle projekte in die plaaslike gemeenskap deur te voer.
Freddie (53), eienaar van First Innovations Samsung in Rossini-boulevard, Vanderbijlpark, is verlede Woensdagaand oorlede nadat hy die afgelope jaar probleme met sy gesondheid gehad het.
Hy is op 1 Mei 1970 in Krugersdorp gebore en het verskeie skole regdeur die land bygewoon, onder andere in Durban en Randfontein, voordat hy in 1979 as kind saam met sy gesin na Vanderbijlpark verhuis het. Hier het hy aan die Laerskool Totius en Oospark skoolgegaan en in 1987 aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer. Na voltooiing van sy diensplig het hy as tegnikus by Nashua in Potchefstroom begin werk, later in Klerksdorp en uiteindelik die Noordwes-gebied bedien.
Dit was gou duidelik dat Freddie briljant was met verkope. Terwyl hy aan Nashua verbonde was, het hy daarin geslaag om talle groot kontrakte los te slaan, onder andere by Anglo Gold, Senwes, en die Noordwes-koöperasie in Lichtenburg.
In 2002 het hy by Telnet in Klerksdorp aangesluit en later besluit om ‘n tak in Vanderbijlpark te open. Hy was die afgelope 21 jaar eienaar van First Innovations Samsung in die dorp, en ‘n aktiewe lid van die Goue Driehoek Sakekamer.
Met sy sagte, omgeehart was dit nie verrassend dat hy as lid van die Rotariërs baie tyd aan gemeenskapsprojekte afgestaan het nie. Hy was onder andere stigter van die “Charity Winkel” in Vanderbijlpark, waar behoeftiges gehelp word om klere en ander noodsaaklikhede aan te skaf.
Volgens Reynier Gouws, algemene bestuurder van First Innovations Samsung, het Freddie altyd moeite gedoen om sy personeel goed op te lei sodat hulle behoorlike leiding en raad aan hul kliënte kon gee. “Ek kan hom regtig uitsonder as my mentor,” sê Reynier. Hoewel die personeel nog in rou is oor hul verlies, word die onderneming voortgesit.
Een van Freddie se talle vriende, Casey Coertzen, onthou hom as ‘n man wat nooit ‘n geskinder kon verdra nie. “Hy het nie toegelaat dat mense sleg praat agter iemand anders se rug nie. Hy het self ook nooit van ander geskinder nie. Hy was ‘ n hartsmens wat regtig omgegee het vir ander.”
Freddie se suster, Lourentia Bosman, sê die familie sal Freddie onthou vir sy liefde vir mense en die toewyding waarmee hy sorgbehoewendes se lewensomstandighede wou verbeter.
“Soos wat die boodskappies instroom, is dit duidelik dat hy ‘n mentor was vir baie. Hy was baie lief vir rugby en gholf, en seker die grootste Lion supporter wat ek ken,” sê sy.
Die familie beplan om Freddie se lewe op 9 Julie saam met sy vriende te vier.
Hy word oorleef deur sy seuns Bradley en Ceejay Ludick, sy ma Freda Fourie, Pa Ben, broers, susters en sy eksvrou, Amy, met wie hy nog goeie vriende was en wat volgens sy familie ‘n groot steunpilaar vir hom was.



