Local newsNewsNews

Suksesvolle Kersfees in Julie

Die Rotariërs het 'n suksesvolle fondsinsamelingsoggend gehou ten bate van hul Winter Angels projek.

VANDERBIJLPARK. – Dis nie aldag dat mens in Suid-Afrika Kersversierings en geskenke in die middel van die winter raakloop nie.

Saterdag, 1 Julie was die uitsondering. Die Rotariër Klub van Vanderbijlpark het ʼn spesiale Kersfees in Julie oggend gehad om fondse in te samel vir hul Winter Angels projek.

Die klub se president, Adri Roos het almal, die spesiale gaste van die Rotariër Klub van Northcliff inkluis, verwelkom en ʼn oorsig oor die Winter Angels projek gegee.

Van die speelgoed wat 18 Julie uitgedeel gaan word. Kontak gerus vir Jeanette (haar nommer is op die foto) indien jy wil betrokke raak of wol kan skenk. Foto: Gerda Bruinette

Hierdie projek, waar breiers ywerig die hele jaar mussies, truie, speelgoed en serpe brei vir minderbevoorregtes, gaan elke jaar van krag tot krag.

Hulle het hierdie jaar alreeds heelwat gebreide goed aan 12 instansies uitgedeel en op Mandela-dag gaan hul gebreide speelgoed, musse en serpe uitdeel.

Soos President Adri Roos tereg sê: “ʼn Mens kan sommer sien elke steek is met liefde gebrei.”

Die meeste van die breiers, van hulle is tot in die Weskaap, is ouer mense wat dit geniet om te brei met die wete dat hul handewerk ʼn verskil maak.

Alhoewel van die breiers hul eie wol koop, is daar vele wat nie die wol kan bekostig nie.

Die Kersfees in Julie oggend was gehou om geld in te samel om wol aan te koop vir die projek.

Van die gaste kuier gesellig voor die afskop van die amptelike verrigtinge. Foto: Gerda Bruinette

Die oggend het feestelik begin met die saal wat mooi getooi was met Kersfees versierings en Kersboompies op elke tafel.

Daar is lekker geëet alvorens die bekende Franz Geldenhuys almal met sy sang en wyshede geïnspireer het.

Sy meesterlike vertolking van, onder andere, Sprokie vir ʼn Stadskind, Stille Nag in Frans en Frank Sinatra se I did it my way het vir hoendervleis oomblikke gesorg.

Franz se boodskap dat elkeen elke dag die liefde, vrede en vreugde van Kersfees moet uitdra het ook die kol getref.

“Doen dinge op jou eie manier, maar moenie ander oordeel nie,” het hy gesê en almal iets gegee om oor na te dink, naamlik: bou jy mense op of tap jy hul energie?

Hy het ook goeie raad van sy ouma gedeel. Sy het altyd gesê voor enige groot besluit of as jy wonder of jy iets moet doen al dan nie, “maak eers tee en gaan lê vir 10 minute.” Goeie raad inderdaad.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button