Local newsNewsNews

Gerrit Meyer – reis, rugby en stories

Gerrit Meyer is 'n jarelange staatmaker van die sakekamer, sy hart klop rugby en om te reis is 'n passie.

VANDERBIJLPARK. – Gerrit Meyer en Vanderbijlpark gaan saam soos rugby en biltong. Hy was maar 26 jaar oud toe hy Park Travel in die dorp oorgekoop het.

“Dit was in November 1979. Ek het maandeliks afbetaal aan die winkel. Oom Harry van der Walt, die vorige eienaar, het altyd gesê ek betaal sy pensioen,” vertel Gerrit.

Juis omdat die Sakekamer hom destyds gehelp het, is Gerrit nou al vir dekades daar betrokke. Die dat hy ook onlangs as erelid van die GTCoC, saam met Sakkie Jacobs en Henk Scheepers, aangewys is.

Hierdie jaar word Gerrit 70, maar hy dink nog nie aan aftree nie. Daarvoor het hy nog te veel energie, planne en projekte in wording.

Hy spandeer wel tot so drie maande op ‘n slag by sy strandhuis in Gansbaai, maar sorg dat hy meeste van die tyd steeds in Vanderbijlpark is. Dis waar sy huis is.

Hier kuier hy op sy lekkerste met sy ingeboude wynkelder en mannekamer waar opgestopte bokkoppe en visse vir jou loer rondom ‘n ekstra groot snoekertafel en ‘n pragtige kroeg.

Gerrit Meyer (regs) het in 1987 die reuse Blou Marlyn van 278 kg na ‘n gespook van ses ure in Mauritius gevang. Die foto het oorspronklik in You van 6 September 1990 verskyn.

Die groot WP rugby vlag kan nie misgekyk word nie. “Ja,” glimlag hy, “dis nou een ding wat nooit verander het nie, my liefde vir my rugbyspan. Niemand kon my nog ooit tot ‘n ander span bekeer nie.”

Gerrit is 8 November 1953 in die Wes-Kaap gebore en hy het in Caledon skoolgegaan. Na skool het hy deeltyds B.Com Rek deur Unisa studeer en voltyds by Boland Bank gewerk.

“Ek het geoudit vir Boland Bank en daar was takke regoor die land, so ek het wyd gewerk van Windhoek tot in Upington en Newcastle.”

In 1975 is hy en Christine getroud en het hy vir ‘n paar jaar in Pretoria gewerk alvorens hulle in Vanderbijlpark kom woon het.

Gerrit, wat van kleinsaf lief is vir visvang, sê hy het dadelik in die Vaal ingeskakel want die hengelaars het hom genooi om saam met hulle geelvis in die strome te gaan vang.

Voormalige burgemeester en sakekamer voorsitter, Harry van der Walt het hom by die sakekamer ingetrek waar hy eers sekretaris en later voorsitter was.

In 2005 is hy ook as hoofbestuurslid van die Afrikaanse Handels Instituut verkies. Vandag is hy steeds betrokke by Park Tra vel en eiendomsontwikkeling.

Reis is in sy bloed en hy neem ‘n toergroep later die jaar Frankryk toe om die kwarteindnaweek van die Rugby Wêreldbeker by te woon.

Christine en Gerrit Meyer. Foto: verskaf

Hy onthou die eerste keer wat hy in Frankryk was, was juis om rugby te gaan kyk in 1995. “Naas Botha het nog gespeel en ons het gewen.” Juis daar het sy persepsie van die Franse heeltemal verander. “Hulle was regtig gasvry en vriendelik en het ons gelukgewens met die oorwinning.”

Gerrit het al baie reise na vele lande onderneem. Hy geniet dit om stories te vertel en onthou die dae wat hy manne soos Koos Meyer, Tolla van der Merwe en Jan Spies as sprekers vir die sakekamer georganiseer het.

“Dan het hul by my oorgebly. Ek onthou ek het Koos een keer voor ‘n geleentheid gevra of hy ‘n whiskey wil hê en toe antwoord hy: “’n Groot single of ‘n klein dubbel asseblief.”

Die keer toe hul die 7’s rugby in Las Vegas gaan kyk het, het wyle Freddie Ludick vir hul ‘n rit in ‘n limousine gereël teen $10 per persoon.

“Jy weet mos hoe is ons, ons het vreeslik lekker gekuier in die luukse voertuig. Toe ons stop wou die drywer, ‘n Rus, weet vanwaar is ons. Nadat ons Afrique du Sud geantwoord het, was sy enigste kommentaar” “I like the way you do it,” lag Gerrit lekker.

Elke reis is vir hom ‘n geleentheid om iets te leer. “Ons gaan met oogklappe deur die lewe, maar elke keer as jy in ‘n ander land kom en meer van ‘n ander kultuur leer, maak daardie oogklappe ‘n bietjie wyer oop.”

Gerrit sê hy stres nie meer nie. Hy maak ‘n punt daarvan om te ontspan en te doen wat lekker is.

“‘n Mens moet elke dag leef. Sowat 12 jaar gelede het ek YOLO gestig. Dit staan vir You only live once. Ons is ‘n groep van 10 ouens wat een maal per maand bymekaarkom en kuier. Dis belangrik. ‘n Mens moet by jou vriende uitkom.”

Gerrit en Christine het drie dogters, vyf kleinseuns en een kleindogter. Elkeen lê hom na aan die hart, maar hy erken hy het ‘n sagte plekkie vir sy enigste kleindogter, Janina.

Naas rugby en visvang, hou hy ook van jag en teen die mannekamer se muur hang besondere versamelstukke, onder andere twee gewere uit die 1800’s en ‘n outydse .303.

Op die een tafel is ‘n erfstuk. ‘n Houtkissie met instrinsieke kunswerke wat met die hand gekerf is deur ‘n Suid-Afrikaanse krygsgevangene tydens die Anglo-Boereoorlog.

Sy wynversameling is net so indrukwekkend. Rooi wyne waarop die jaartal 1962 pronk en selfs van wyle Dok Danie Craven se wyne pryk op die rak.

“Die huis is gebou op ‘n afdraande en toe ons die slag wil aanbou het van my vriende gesê ek kan of baie duur betaal om grond in te ry om die erf gelyk te kry, of ek kan ‘n kelder bou en toe bou ek die kelder,” vertel hy.

By die Meyers kan mens lank vashak en kuier. Gerrit is ‘n bron van wyshede, stories en algemene kennis oor elke land wat hy al besoek het.

‘n Joviale man wat lekker kan lag en goed kan luister met jare se wysheid oor die besigheidswêreld en die lewe in die algemeen.

Na 44 jaar in Vanderbijlpark is hy nou pure Valie, nou moet ons hom nog net so ver kry om die Leeus te ondersteun.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button