FCJ Toekennings: 17 Benoemings vir Vaalweekblad span
The AVBOB FCJ Excellence Awards – 2022 se finaliste is bekend gemaak en kyk net waarvoor is die Vaalweekbladspan alles benoem.
VANDERBIJLPARK. – Vir gemeenskapskoerante (dis nou die koerante wat net in hul eie areas versprei word) is die Forum of Community Journalists se jaarlikse toekennings ‘n hoogtepunt.
Die land se beste plaaslike joernaliste en fotograwe ding mee vir daardie gesogte pryse. Net om as een van die top tien in ʼn kategorie benoem te word, is ʼn groot eer.
Die top 10 in elke kategorie word na die toekenningsaand uitgenooi wat hierdie jaar in Kaapstad plaasvind.
Vaalweekblad bars van trots, want die span het 17 nominasies vir hierdie jaar se toekennings!
Die koerant as geheel is benoem vir voorblad van die jaar en koerant van die jaar. Laasgenoemde hoop die span om drie in ʼn ry te maak, want ons het die toekenning in 2021 en 2022 opgeraap.
Die individuele spanlede skitter in al wat ʼn kategorie is met Christiaan Cloete wat die voortou neem en in sewe kategorieë die top 10 gehaal het.
Hy is benoem in die algemene fotografie kategorie, vir nuus fotografie en vir sport fotografie. In die skryf afdelings verskyn Christiaan se naam by digitale verslaggewing en harde nuus.
Al die nominasies het hom ook onder die finaliste vir fotograaf van die jaar en joernalis vir die jaar gebring.
Die Vaalweekblad se sportredakteur, Ettienne van Rensburg is ʼn finalis in die afdeling sport fotografie en verskyn ook onder die top 10 finaliste vir koppe en sportverslaggewing. Hy ding ook mee as fotograaf van die jaar.
Vaalweekblad se senior redakteur, Elsje Vermeulen is in vier afdelings benoem, naamlik algemene fotografie, nuus fotografie, sport fotografie en fotograaf van die jaar.
Die groot geleentheid vind 4 Augustus plaas. Ons is super trots op julle en weet sommer julle gaan skoonskip maak die aand.
