Local newsNewsNews

ANC vry glo na Emfuleni se Gerda, maar VF+ wil niks weet

Die Vryheidsfront Plus sê die ANC het hom ‘n aanbod gemaak vir ‘n pos op die burgemeesterskomitee van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, maar die Vryheidsfront Plus het die aanbod van die hand gewys.

VANDERBIJLPARK. – Jaco Mulder, die Vryheidsfront Plus se provinsiale leier in Gauteng, het reeds vroeër vandeesweek gerugte van ‘n koalisie tussen die ANC en Vryheidsfront Plus besweer, maar bygevoeg dat die VF+ wel met die ANC se leierskap in Emfuleni vergader het om te praat oor die gebrek aan kundigheid van raadslede en veral lede van die burgemeesterskomitee.

Mulder sê die VF Plus sal nooit in ‘n koalisie met die ANC gaan nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, sê in ʼn verklaring dit is onwaar en opportunisties om voor te gee dat die VF Plus met die ANC sal saamwerk.

“Die VF Plus sal onder geen omstandighede met die ANC saamwerk nie en om so iets voor te gee, is kwaadwillig en opportunisties.

“Dit is daarom betreurenswaardig dat die DA kiesers probeer mislei oor ’n situasie in Emfuleni,” sê Groenewald in ʼn verklaring.

Groenewald sê: “Die feite is dat die ANC in Emfuleni ’n aanbod aan politieke partye gemaak het – ook aan die VF Plus – vir poste op die burgemeesterskomitee van dié plaaslike munisipaliteit. Die VF Plus het dié aanbod van die hand gewys.”

Volgens Groenewald het die DA dié situasie nou op ’n opportunistiese en oneerlike wyse geplooi om die indruk te wek dat die VF Plus bloot weens die aanbod bereid is om met die ANC saam te werk.

“Die VF Plus se standpunt oor samewerking met die ANC is deeglik gedokumenteer en goed bekend. Dit is dat daar nie nou óf later enige samewerking of koalisie met die ANC sal wees nie.

“Die party sal altyd in die belang van kiesers optree, ook in Emfuleni waar die situasie uiters benard is.

“Die munisipaliteit van Emfuleni is bankrot, skuldeisers het sy bankrekeninge laat vries weens uitstaande skuld en daar is feitlik nie sprake van dienslewering nie.

“Hierdie is die direkte nalatenskap van die ANC se onbevoegdheid om te regeer. Die VF Plus sal gewis niks doen om die ANC se posisie te versterk en hom in regering te hou nie.

“Die VF Plus sal soos elders sy rol as opposisieparty nougeset vertolk en sal alles moontlik doen om inwoners te help te midde van die gebrek aan dienslewering onder die ANC,” sê Groenewald.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button