94 en sy brei nog patroontjie truie
Tannie Sienie het onlangs haar 94ste verjaardag gevier en sy is nog steeds fluks aan die gang.
VEREENIGING. – Tannie Sienie Brummer het 1 Julie haar 94ste verjaardag gevier.
Die ma van vyf kinders, ouma van 16 kleinkinders en grootouma van 14 agterkleinkinders, sê sy het omtrent die heel week partytjie gehou.
Haar jongste dogter, Elizabeth Potgieter beaam dat die feesvieringe oor ‘n hele paar dae versprei is aangesien die hele familie op een slag (53 sterk) ‘n bietjie te veel raak vir Ouma Sienie.
“Ja,” sê Ouma Sienie, “dan kuier hul net met mekaar en ek kan nie alles meer so lekker hoor nie.”
Behalwe vir die gehoor wat so ‘n bietjie pla, is sy op 94 nog fiks en gesond. Tannie Sienie stap elke dag stiptelik om 10:00 en 15:00 saam met haar dogter om die groot huis.
Sy self bly in haar eie woonstel op die erf waar sy in die oggende nog vir haarself pap maak.
“Hulle bring vir my middag- en aandete soos in ‘n hotel,” lag sy lekker. Tannie Sienie is baie gesteld op haar roetine en duld nie ‘n gelaatkommery nie.
Is Elizabeth net vyf minute laat om saam met haar ma om die huis te stap, dan gaan stap Tannie Sienie nie.
Dan doen sy sommer oefeninge terwyl sy sit en brei, soos om byvoorbeeld haar bene op en af te beweeg en haar enkels in die rondte te draai.
Haar hande oefen sy met die breiwerk. “Ek het al die jare vir my kinders en kleinkinders truie gebrei, maar ek het klaar vir hulle gebrei, nou brei ek vir die weeskinders,” verklaar sy beslis.

Sy brei elke dag, want sy glo daaraan om haar hande in beweging te hou.
“Ek brei nie net plein nie, ek moet ‘n patroon brei,” beduie sy na haar breiwerk wat altyd byderhand is.
Sy beskou haarself as baie geseënd en reken dis omdat sy vrede in haar hart en huis het dat sy al 94 somers agter die rug het.
Haar dogters stem saam. “Daar was altyd vrede in ons huis. Niemand het ooit met mekaar baklei nie. Ons was almal rustige mense en so is ons almal vandag nog.”
Twee jaar gelede het die Covid-virus ook vir Tannie Sienie platgetrek, maar Elizabeth het gesê die virus sal nie haar ma vat nie.
“Ek het 24 uur per dag vir haar gebid. Ek was saam met haar in die woonstel. Sy was regtig baie siek, maar die Here se genade was groot. Sy het heeltemal gesond geword sonder dat sy ooit naby ‘n hospitaal was.”
Vandag staan daar twee Ice Berg roosbome as stille getuienis van die groot wonderwerk.
Tannie Sienie sê sy gaan maak gereeld ‘n draai by die rose en noem hulle “my getuienis rosies.”
Sy het in Brits grootgeword, maar na haar huwelik het hulle eers in Pretoria tuisgegaan voordat die gesin hul in Vanderbijlpark gevestig het.
Sy woon nou die afgelope sowat twee jaar in Vereeniging by Elizabeth nadat sy vir amper 30 jaar by haar oudste dogter, Thea in Mondeor gewoon het.
“Maar toe trek Thea-hulle na ‘n aftreeoord en ek het gesê ek wil nie tussen ‘n klomp oumense gaan bly nie,” en Tannie Sienie lag lekker.
Sy het ‘n skerp sin vir humor en sê om alleen te wees pla haar glad nie. Sy hou van haar eie geselskap.
Naas haar breiwerk lees sy steeds baie, en dit sonder ‘n bril. Aan die groot ophef oor haar 94ste verjaardag steur sy haar nie veel nie.
“Dis net 94, wat maak dit saak? Ek het op my 80ste verjaardag regtig ‘n groot partytjie gehou.”
Sy lag lekker en raas ook sommer toe haar dogters reken sy moet liewer ingaan want die windjie raak koud buite.
“Ek kry nie koud nie,” sê sy voordat sy haar seun gaan groet wat intussen opgedaag het.
“Dis lekker as almal so stuk-stuk kom kuier,” groet sy met ‘n stout laggie en ‘n vonkel in die oog
