Gestremde visvang – hulp gevra
Varswaterhengel is 'n sport waaraan die hele familie kan deelneem, ook persone met gestremdhede.
VANDERBIJLPARK. – In Oktober vind die SA Hengelkampioenskappe vir hengelaars met gestremdhede weer by Bloemhofdam plaas.
Dis ‘n hoogtepunt vir die hengelaars van verskeie provinsies elke jaar.
Jeanette Steyn-Nortjé is weer die spanbestuurder van die Noord-Oos Mpumalanga gestremde span waar haar seun, Norman Steyn een van die span se ster hengelaars is.

Die gestremde provinsiale hengelspanne is nie gebonde aan die provinsie waar hul bly nie. Daarvoor is daar te min hengelaars, want ‘n span moet uit ten minste ses lede bestaan.
Die NOM-span se lede kom so ver as Lydenburg, Carolina en Witbank met Jeanette-hulle wat in Vanderbijlpark woon.
Die hengelaars word volgens hul gestremdhede geklassifiseer. Van hul kan bv. self ingooi en kap en benodig net iemand om vir hul te skep, terwyl ander se helpers vir hul moet kap en ingooi ook.
Johan Nortje sê die hengelaars se gestremdhede verskil baie en daarom is klassifikasies belangrik. Sommiges is in rolstoele en ander het ledemate verloor.
“Ek het byvoorbeeld twee knievervangings gehad, wat dit moeilik vir my maak om die vis alleen te skep, maar ek kan alles anders self doen,”
Die kostes, sonder petrol en koeldrank vir die drie dae, beloop ongeveer R3 400 per persoon. Dit sluit aandete, kospakkies, akkommodasie en registrasiegeld in.

Baie van die gestremde hengelaars moet ook vir hul helpers betaal en dan het heelparty ook versorgers wat permanent na hul omsien vir wie daar ook voorsiening gemaak moet word.
Elkeen van die hengelaars het ‘n ongelooflike passie vir hul sport en soos Jeanette sê, “langs die dam is baie keer die enigste plek waar hul regtig onafhanklik kan wees en voel hulle kan iets bereik.”
Boonop het baie gestremde hengelaars nie werk nie en is hul afhanklik van ‘n Sassa toelaag.
“Ons wil graag gestremde hengel in Suid-Afrika bevorder, maar die kostes word elke jaar duurder. Hierdie jaar behoort daar sowat 58 hengelaars te wees. Enige donasies om ons span of gestremde hengel in die algemeen te ondersteun sal welkom wees,” het sy gesê.
Donasies kan in die volgende bankrekening inbetaal word. Rekeningnaam: North East Mpumalanga Freshwater Angling. Standard Bank. Rekeningnommer: 032 974 396. Takkkode: 05 26 50.
Gebruik asseblief die verwysing JeanetteGestremdes by enige inbetaling en stuur bewys van betaling na Jeanette by 082 774 9537.
Naas donasies sê Jeanette hulle kan ook doen met nog hengelaars met gestremdhede.
“Al die provinsies se hengelaars kom goed oor die weg. Ons sien mekaar by die SA’s en die SAFOF spele elke jaar.
“Ons is al soos ‘n familie. Hoe meer hengelaars daar is, hoe meer spanne kan teen mekaar meeding en so kan ons verseker dat die sport aanhou groei.”
