Local newsNewsNews

Hawelose se bene geamputeer nadat hospital hom wegwys

Sy bene is geamputeer nadat hy glo by 'n hospitaal gaan aanklop het, maar weggewys is.

*WARRSKUWING: DIE BERIG BEVAT GRAFIESE MATERIAAL WAT SENSITIEWE LESERS KAN ONTSTEL.

*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekbklad (30 Junie tot 6 Julie) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – ‘n Hawelose man   wat glo by ‘n staatshospitaal weggewys is omdat hy nie ‘n identiteitsdokument gehad of by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) geregistreer is nie, het dié week albei sy bene verloor nadat dit weens erge gangreen geamputeer moes word.

Stephanus Frederick Zeelie (55) wat naby die Sam Gross Jetty langs die Vaalrivier in Drie Riviere woon, het blykbaar die bese rings aan sy bene opgedoen toe hy een aand langs ‘n vuur aan die slaap geraak en sy slaapsak aan die brand geraak het.

Zeelie is ’n bekende gesig op die hoek van Generaal Hertzogweg en Basheestraat in Drie Riviere waar hy vir geld bedel om aan die lewe te bly.

Stephanus Frederick Zeelie (55). Foto: Verskaf

Hy het na die voorval by die Vereeniging Kopanong-hospitaal om hulp gaan aanklop, maar omdat hy sy identiteitsdokument verloor het en blykbaar ook nie by Sassa geregistreer is nie, kon die hospitaalpersoneel glo nie veel vir hom doen nie.

Pynpille is glo in Zeelie se hand gestop en hy is huis toe gestuur. Sy toestand het daarna versleg en die gangreen het verder in sy bene versprei.

Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wat gehelp het om mediese behandeling vir Stephanus Frederick “Kai” Zeelie te kry en hom bystaan met ‘n aansoek vir ‘n identiteitsdokument en Sassa-registrasie, meen die tragiese voorval laat ernstige vrae ontstaan oor stelsels en strukture wat in plek is om behoeftige mense soos Zeelie te help.

Stephanus Frederick Zeelie (55) het albei sy bene weens erge gangreen verloor. Foto: Verskaf

“Hoe is dit moontlik dat ‘n publieke hospitaal iemand wat in nood verkeer kan wegwys bloot omdat hulle nie ‘n identiteitsdokument kan toon of by Sassa geregistreer is nie?” wou Venter na aanleiding van die voorval weet.

Venter vertel dat sy sowat twee weke gelede op ’n Maandagoggend ‘n selfoonboodskap gekry het waar sy meegedeel is dat daar ‘n man langs die rivier lê wat besig is om dood te gaan.

Venter het haar dadelik na die toneel gehaas waar sy Zeelie aangetref het.

Hy was in erge pyn. Volgens haar het sy tussen 11:00 en 18:00 gesukkel om die brandweer en nooddienste in die hande te kry om uit te kom.

Later het sy die nabygeleë Midvaal Privaathospitaal vir raad en hulp gekontak. Die hospitaal het toe ‘n ambulans gestuur om te help.

Stephanus Frederick Zeelie (55) se voet. Foto: Verskaf

Van die hospitaalpersoneel het selfs na die toneel uitgekom en ‘n plaaslike nooddienste operateur het ook gekom en hulp aangebied.

Zeelie is na die Vereeniging Kopanong-hospitaal geneem.

Hy is weens die aard van sy beserings na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas.

Ongelukkig het die gangreen tot so ‘n mate versprei dat albei sy bene bo sy knieë geamputeer moes word.

*Mandisa Adoons, die Vereeniging Kopanong-hospitaal se uitvoerende hoof, het gesê die hospitaal is besig om vas te stel waarom Zeelie huis toe gestuur is en sou terugvoer gee sodra die feite rondom die beweerde voorval bekend is. Vaalweekblad sal dié hospitaal se kommentaar plaas wanneer ons dit ontvang.

Die gangreen het deur Stephanus Frederick Zeelie (55) se voet versprei. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button