Local newsNewsNews

Verloof op die verloofwals – en dis al 60 jaar later

Hulle het 6 Julie hul 60ste herdenking gevier, hier is hul storie.

VANDERBIJLPARK. – 6 Julie 1963 was ‘n besondere dag in die lewe van Willem en Bella Martins.

Dit was die dag wat hul vir ewig trou aan mekaar gesweer het en na 60 jaar doen hul daardie belofte steeds gestand.

Willem onthou hoe hy destyds by sy oom-hulle in Johannesburg gaan kuier het.

Hy was op daardie stadium in die lugmag. Al gou het hy die fraaie buurmeisies raakgesien, maar dit was die mooie Bella wat sy voete onder hom uitgeslaan het.

“Ek het haar drie weke geken, toe gaan koop ek ‘n verloofring,” vertel hy. Hy was baie lief vir dans en het haar in haar ouerhuis leer dans.

“Terwyl die verloofwals speel, het ek haar gevra om te trou,” sê Willem, wat vandag steeds so erg is oor sy bruid.

Kort na hul verlowing is hul per trein na Zeerust waar Willem sy verloofde aan sy familie gaan voorstel het. “Ek het op ‘n plaas grootgeword en sy in die stad,” lag hy.

Hulle is drie maande later getroud en het vir eers by haar ouers in Johannesburg gewoon totdat sy lugmag dae agter die rug was.

Daarna het hy by die destydse Yskor in Pretoria gewerk alvorens hy by Yskor in Vanderbijlpark aangestel is.

Vandaar het hy ‘n oorplasing gekry na die voormalige Dorbyl Vikor se smeltery. Hier het hy gewerk tot met sy aftrede.

Na sy amptelike afrede wou Willem nie stilsit nie en het weer in Vereeniging gaan werk alvorens hy as faktotum by Laerskool Oospark aangestel is.

“Die jaar toe ek 72 word, toe sê die skoolhoof vir my dis nou tyd om regtig af te tree.”

Sy vrou was tuisma vir hul drie kinders en al die jare in beheer van die huishouding.

“Hy het afgetree, maar waar het jy nou al van ‘n huisvrou gehoor wat kan aftree?” lag sy en voeg gou by dat Willem haar baie in die huis help.

Die twee woon al vir 57 jaar in dieselfde straat. Hulle het eers ‘n huis gehuur en later so ‘n paar huise verder gekoop.

“Ek het sommer alles op ‘n sleepwa gelaai en dit self straat-af getrek,” lag Willem.

Naas hul drie kinders, “dis eintlik ses kinders, want ons het die beste en oulikste aangetroude kinders,” het die egpaar ook nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders met ‘n agtste een wat eersdaags gebore word.

“Ons is werklik geseënd met ongelooflike goeie en lieflike kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Boonop is hul nog almal in die omtrek.

“Dis net ons een dogter wat in Oman werk, maar sy kom darem elke ses maande huis toe” vertel Bella met stralende oë.

Om 60 jaar getroud te wees is nie almal beskore nie. Wat is hul geheim? “Alles is net genade van Bo. Ons stel God eerste en begin elke oggend met stiltetyd,” is die antwoord.

Hul familie hou hul ook aan die gang. Bella het die kleinkinders help grootmaak, maar sy sê sy het nie kans gesien om die agterkleinkinders ook op te pas nie.

“Ek is baie lief vir hulle, maar as hul huil, is hulle hul ma se probleem,” lag sy. Die familie het hul Sondag, 2 Julie so verras.

“Ons dog nog ons gaan na ou motors kyk en toe ons by ‘n saal inloop, is die hele familie daar. Dit was nou regtig lekker,” straal hul weer van voor af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button