Wen kaartjies vir Neil Sandilands vertoning
Neil Sandilands - bekende Suid-Afrikaanse akteur wat ook nou internasionaal opslae maak - bring sy band vir 'n vertoning uit 'n ander wêreld na Sasolburg. Kliek om te lees hoe kaartjies gewen kan word.
SASOLBURG. – Hy het jare gelede bekoor as Bart in 7de laan. Hy het verras met sy sang in Jakhalsdans waar hy harte gesteel het as die liedjieboer, Dawid Le Fleur saam met Theuns Jordaan.
As akteur het hy homself al oor en oor bewys, van komedie tot drama. Neil Sandilands mag maar toneel speel.

Intussen het hy groot naam gemaak in die VSA en het hy al sy buiging in verskeie Amerikaanse TV-reekse en films gemaak, van ʼn verskyning in House en NCIS tot by permanente rolle in FLASH, DAM en Sweet Tooth.
Musiek lê hom ook na aan die hart en hy het al verskeie albums uitgereik, waaronder “Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse”, “Die Groot Niks”, “Die Groot 5” en sy jongste album “Allegaarkie vir ’n Askeet”.
Tans is hy in Suid-Afrika op ʼn Wintertoer – Kaap tot Mpumalanga met sy band, bestaande uit Schalk Joubert (baskitaar), Frank Freeman (elektriese kitaar), en Ronan Skillen op perkussie.
So tussen die Kaap en Mpumalanga gaan Neil Sandilands en sy band ook by die Ettiene Rousseau Teater in Sasolburg ʼn draai maak.
Saterdag, 22 Julie om 14:30 gaan teatergangers verras, vermaak en ingetrek word in Sandilands se wêreld.
Daar is nie net musiek op die spyskaart nie, maar ook stories uit sy kinderdae in Randfontein saam met ʼn handvol vertellings oor Sunset Boulevard, the Island of Kauai, New York, Auckland en Namakwaland.

Kaartjies vir die besondere ervaring kan bespreek word by www.ertickets.com.
Staan ʼn kans om twee kaartjies vir die vertoning te wen.
Beantwoord die vraag: Wat is die naam van Neil Sandilands se jongste album?
Stuur die antwoord met jou naam en telefoonnommer na gerda@mooivaal.co.za voor Woensdag, 19 Julie om 12:00. Wenners sal telefonies ingelig word.
