Broers in ongeluk: Michael se toestand steeds ernstig
"Ons het hom nog nie gesê dat sy boetie oorlede is nie, maar ons dink hy voel dit aan."
Michael Pretorius (21), een van die twee broers wat Woensdagaand, 28 Junie in ‘n botsing langs die Ekopark tussen Vaalpark en Sasolburg betrokke was, is steeds in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Michael se broer, Nicky (22) het ‘n dag na die tragiese ongeluk aan sy beserings gesterf.
Die seuns se pa, mnr. Nicky Pretorius senior, is self ‘n opgeleide paramedikus wat aan drs. Johan Fritz, Helmut Loest en Chris Erasmus se kamers in Sasolburg verbonde was totdat die praktyk verlede jaar met hul aftrede gesluit is.
Pa Nicky gee daagliks terugvoer oor Michael se mediese toestand, wat die afgelope week wipplank ry. Die afgelope Saterdag was daar groot kommer toe Michael se koors en infeksietelling skielik erg geklim het. Teen Sondag en Maandag het sy toestand weer begin stabiliseer, maar Nicky het vanoggend, Dinsdag 11 Julie, laat weet dat dit tans weer nie goed gaan nie.
Michael se infeksietelling is steeds baie hoog en sy antibiotika word nou aangepas om dit teen te werk. Michael se operasie aan sy gebreekte bene, wat more sou plaasvind, is voorlopig uitgestel sodat die infeksie eers onder beheer kan kom. Daar is ook besluit om hom nie vandag al van die ventilator af te haal nie. Hy word steeds gesedeer om hom rustig te hou, en volgens Pa Nicky gaan hy binnekort ‘n trageotomie kry (‘n gaatjie in sy keel vir die pype).
Daar is die afgelope week gevrees dat een van sy voete dalk weens onvoldoende bloedvloei geamputeer sou moes word, maar die kleur van sy bene en voete lyk tans goed.
“Michael is nog onder sedasie maar hy is bewus van ons wanneer ek en sy ma by hom is. Terwyl hy effens wakkerder was, het ek hom gevra of hy die ongeluk kon onthou. Hy kan beslis iets daarvan onthou en het baie emosioneel geraak. Ons het hom nog nie gesê dat sy boetie oorlede is nie, maar ons dink hy voel dit aan. Ons sal eers vir hom sê wanneer hy van die ventilator af is en as die dokters sê hy is gereed daarvoor,” sê Pa Nicky. “Sy toestand is tans stabiel maar hy is nog baie ernstig. Hier lê ‘n baie lang herstelpad voor. Bid asseblief vir ons kind.”
Kyk na die video: Michael reageer terwyl sy pa met hom praat:
https://www.youtube.com/shorts/CSUZGmY59OU

Lees ook die berig wat in Vaalweekblad se uitgawe van 7 Julie verskyn het:
Een broer sterf, ander broer veg om sy lewe
SASOLBURG. – As paramedikus vir byna 20 jaar is lewe-en-dood-situasies by ongelukstonele niks nuut vir mnr. Nicky Pretorius nie. Woensdagaand, 28 Junie, was egter anders: Dit was dié keer sy eie twee seuns wat ernstig beseer is in ‘n botsing teen ‘n boom langs die Ekopark in Vaalpark.
Die seuns, “Klein” Nicky (22) en Michael (21), was op pad huis toe vanaf ‘n restaurant toe hul voertuig, wat deur Michael bestuur is, van die pad geloop en teen die boom gebots het. Car Track het mnr. Pretorius om 21:47 laat weet dat die voertuig se sein verloor is. Hy het dadelik onraad vermoed, saam met vriende in sy kar gespring en na die seuns begin soek, maar omdat die presiese plek nie dadelik bekend was nie, het hulle die wrak eers omstreeks middernag gevind. ‘n Ambulans en insleepdienste het toe reeds opgedaag.
Op die toneel was dit duidelik dat die seuns kritiek beseer was. Nicky was bewusteloos weens erge hoofbeserings en sy regterarm en been was gebreek. Sy borskas was vergruis, met ernstige inwendige beserings. Hy is reeds op die ongelukstoneel op ‘n lewensondersteunende stelsel geplaas.
Michael, bestuurder van The Nuthouse in Sasolburg, was vasgeklem in die voertuig en moes met lewenskake bevry word. Albei sy bo-bene is gebreek, sy linkervoet is erg beseer en daar is frakture in sy rugwerwels. Hy het ook ‘n slegte stampwond aan sy voorkop opgedoen.
Albei is na Sasolburg se staatshospitaal vervoer, waar Nicky breindood verklaar is. Die lewensondersteunende stelsel is Donderdagoggend om 10:42 afgeskakel en hy is om 10:47 oorlede.
Michael is eers na die Kroonstad-hospitaal en later na die Pelonomie-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas, waar hy sedert die ongeluk om sy lewe veg. Hy was aanvanklik by sy bewussyn maar het die Vrydagmiddag omstreeks 15:00 ‘n fisiese ineenstorting gehad (in mediese terme bekend as ‘n “crash”) en moes op lewensondersteunende masjiene geplaas word. Sy infeksietelling, koors en algemene toestand was vroeër die week nog so kommerwekkend dat daar vir sy lewe gevrees is. Mnr. Pretorius kon egter teen Dinsdag (4 Julie) laat weet dat daar beterskap is, hoewel Michael nog nie buite gevaar is nie.
Mnr. Pretorius en die seuns se ma, mev. Lena Rossouw, los mekaar af om by Michael in die hospitaal te kan wees. Tussendeur moet hulle ook terugry Vaaldriehoek toe vir verpligtinge hier. Een daarvan was toe mnr. Pretorius Nicky se liggaam Dinsdagoggend in die lykshuis moes kom uitken. Sy stem breek as hy vertel hoe moeilik dié taak was.
“Dit was iets vreesliks. Hy het baie, baie seergekry. Ek kan verstaan waarom hy nie oorleef het nie,” sê hy.
Mnr. Pretorius bedank Vaal Emergency Care en ER24 vir die uitstekende diens wat hulle die aand van die ongeluk gelewer het. Hy bedank ook die gemeenskap, selfs mense in die buiteland, wat vir hom en Michael en hul gesin bid. “Julle gebede dra ons en Michael deur hierdie baie moeilike tyd. Moet asseblief nie ophou nie,” vra hy. Die seuns se ongeluk het skaars ‘n maand na die afsterwe van hul geliefde ouma, mev. Elsie Pretorius, gevolg. Mnr. Pretorius sê die seuns het haar dood moeilik verwerk.
* Nicky, wat op 22 Augustus 23 sou word, was ‘n oudleerling van die Laerskool Kollegepark en het in 2018 aan Hoërskool Driehoek gematrikuleer. Hy was ten tyde van sy dood bestuurder van The Bar With No Name in Vaalpark. Volgens sy pa was Nicky ‘n saggeaarde, hardwerkende, liefdevolle mens en baie geheg aan sy familie en vriende. Nicky en Michael, wat net ‘n jaar en 10 dae in ouderdom verskil het, was veral na aan mekaar.
Mnr. Gert van Rensburg, Nicky se werkgewer, sê sy dood is ‘n geweldige skok en pynlike terugslag vir hom en die personeel. ‘n Gedenkdiens word 15 Julie om 11:00 in The Village by The Bar With No Name gehou. Nicky word buiten sy pa en Michael ook oorleef deur sy ma en stiefpa, mev. Lena en mnr. Hannes Rossouw, drie broers, Stephan, Ruan en Juandré, en sy pa se lewensmaat, Eben Cockeran.


Lees vorige berigte oor die ongeluk hier:
Pa Nicky Pretorius gee hartroerend terugvoer oor Michael se toestand
