Local newsNewsNews

Kreatief, talentvol met ‘n goue hart

Estelle Dannhauser is een van die Vaal se gewilde modeontwerpers wat elke dag met oorgawe aanpak.

VANDERBIJLPARK. – Dit het kleintyd al begin toe Estelle Dannhauser met afvallappies vir haar poppe rokke geprakseer het.

Vandag is sy een van die Vaal se bekende modeontwerpers en aan die stuur van haar eie besigheid, Ruby Marmelaide.

Sy borrel van lewenslus en haar hande praat saam. “Dit was net ‘n stokperdjie wat toe my werk geword het. Nie dat ek dit as ‘n werk beskou nie, dit voel of ek elke dag speel.”

Estelle het in Witbank haar skoolloopbaan voltooi. Na matriek het sy onderwys aan die voormalige PU vir CHO studeer.

Een van die trourokke wat Estelle al ontwerp en gemaak het.

Kort daarna het sy haar man, Johan ontmoet. Hy het op daardie stadium saam met haar pa by Lethabo kragstasie gewerk.

Hierdie jaar is hulle al 35 jaar getroud. “Ons het al drie keer getrou,” lag sy.

Vir hul sewende huweliksherdenking het hul hul beloftes aan mekaar hernu in ‘n klein kerkie in Henley-on-Klip en toe hul 25 jaar getroud was, het hul besluit om weer te trou. In Las Vegas.

“Ek het gedog dit gaan sommer net vir die pret wees. Ons het die man wat die seremonie hanteer het, die oggend gaan sien. Sjoe, hy het so mooi geluister na wat ons gesê het en die aand se seremonie was regtig besonders,” onthou sy.

Die egpaar het drie dogters en Estelle het toe die kleinspan in die laerskool was gereeld kostuums vir hul modelwerk gemaak.

“Ek het drie baie kunstige dogters. Hulle het self die ontwerpwerk gedoen, ek het net gemaak,” lag sy.

Later jare het die matriekafskeidsrokke gevolg, vir haar kinders en hul maats. Kort voor lank het sy vir hul trourokke gemaak.

“Ek is baie gelukkig, my man werk van die huis af en ondersteun my ongelooflik baie.”

Juis omdat sy dit so geniet om rokke te ontwerp en te maak, het sy in 2010 die Princess Project geloods, waar Estelle en haar vriendinne saamgespan het om een meisie die matriekafskeid van haar drome te gee.

Estelle het al heelwat trourokke omskep in dooprokkies.

“Ons het alles voorsien, van die rok tot die skoene, grimering en fotograaf,” vertel sy. Op ‘n stadium het ‘n ontwerpstudent haar internskap by Estelle gedoen.

“Ek het op daardie stadium klere gemaak vir ‘n konsert by Hoërskool Driehoek, so die arme student het net gehelp konsertklere maak,” lag sy.

Estelle en haar werk het wel ‘n blywende indruk gelaat, want die einste student het die Princess Project oorgeneem.

Estelle vertel dat sy kliënte het vir wie sy matriekafskeidsrokke gemaak het en toe trourokke en later het hul teruggekom met die trourokke en gevra dat sy dooprokkies uit die trourokke moet maak.

Sy geniet dit ook om elke jaar aan die Vaal se Designer of the Year kompetisie deel te neem.

“Dis wraggies vir die lekker. Hierdie jaar se tema is Diamonds under pressure. Ek kan nie wag nie, want ek sal my verbeelding en kreatiwiteit vrye teuels kan gee.”

Haar oudste dogter, Celeste Kruger, bak troukoeke en saam neem die twee elke jaar deel aan die Wedding Expo by Anna’s Kitchen in Drie Riviere.

“Ek doen elke jaar blommemeisierokke vir die Expo uit lap wat van die trourokke oorgebly het. Sommer net om iets anders te doen en die meisies lyk altyd vir my tog te oulik in hul rokkies.”

Estelle is ook deel van die Vaal se blommeklub en geniet enige iets waar sy kreatief doenig kan wees.

Sy is juis besig om Viking kostuums te maak, want Johan word hierdie jaar 60 en in Augustus word daar ‘n groot Viking Partytjie gehou.

Tipies Estelle het sy die tema met oorgawe aangepak. Intussen is die matriekafskeidseisoen net om die draai, maar sy gee nie om nie, sy geniet elke oomblik daarvan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button