KYK: Steenhuisen vry na kiesers in Midvaal
Die DA se federale leier, John Steenhuisen, het Donderdag (13 Julie 2023) die plaaslike munisipaliteite van Lesedi, Midvaal en Emfuleni in die Sedibeng-distrik besoek in die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing.
MEYERTON. – Steenhuisen het aan Vaalweekblad gesê dat hy die gebied besoek om die wonderlike werk wat die DA-beheerde Midvaal Plaaslike Munisipaliteit doen te besigtig.
Steenhuisen sê die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit fokus om paaie en infrastruktuur te bou.
Hy meen dié munisipaliteit staan in skrille kontras teenoor die ANC-beheerde Lesedi Plaaslike Munisipaliteit by Heidelberg, wat hy vroeër die oggend besoek het, waar die paaie en infrastruktuur in ‘n haglike toestand is.
“Dit is die DA-verskil. Geld word bestee waar dit saak maak en ‘n verskil maak, op die mense en nie op die politici nie, en hier kry ons dinge gedoen.”
“Ek is verskriklik trots dat hierdie munisipaliteit weer ‘n tops is, nie net in Gauteng nie, maar ook landwyd waar die munisipaliteit as een van die beste plaaslike munisipaliteite iaangewys is.
“Dit is die verskil wat die DA maak, en dit is hierdie soort bestuur wat ons nou na ‘n provinsiale en nasionale vlak wil bring in aanstaande jaar se verkiesing,” sê Steenhuisen.
Die algemene verkiesings vind aanstaande jaar plaas, maar die spesifieke datum is nog nie bevestig nie.
Die algemene verkiesing word gehou om ‘n nasionale vergadering sowel as die provinsiale wetgewer in elke provinsie te kies.
Dit sal die sewende algemene verkiesing wees sedert die einde van die apartheidsera in 1994.
Mense wat in die verkiesing wil stem moet seker maak dat hulle geregistreer is.