Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor die gebrek aan sneeu in Vanderbijlpark, verwarmers wat my laat rooi uitslaan en ander winter dinge. Lekker lees.

RUBRIEK. – Gauteng kan ook nou sê die winter was hierdie jaar op ‘n Sondagmiddag, Maandag en ‘n Dinsdag.

Dit het dan tot gesneeu in Johannesburg. Nou nie hier in Vanderbijlpark nie. Ons het net die koue gekry.

Myse Ford, Mich het my Maandag op pad kantoor toe vertel dis -1°C. Gmph, dit was onnodige inligting. Op daardie stadium was tot my neus yskoud.

‘n Vriend uit Ermelo het foto’s gedeel van die sneeu op sy bakkie se dak en ek het my verstom aan die sneeulaag oor Ellispark. Op sosiale media.

Ek het nie kans gesien om al die pad Johannesburg toe te ry om die koue ysigheid self te ervaar nie.

Was juis die sneeu in die stad wat ‘n ander vriend van my warm onder die kraag gehad het.

Iemand het hom glo gebel en gevra of is ons toe onder die sneeu, want hulle het gehoor dit sneeu in J’burg.

“Hygend hert, weet mense nie hoe groot en hoe ver is ons van daai plek af nie?”

Inderdaad, daar is mos mense wat dink die Vaaldriehoek is daai plekkie suid van Johannesburg.

Sal die dag wees. Soos iemand nou die dag sê, ons is ‘n klein groot dorpie en ‘n groot klein dorpie en hier gebeur dinge!

Wel nou nie sneeu nie, maar hier uit die Vaal het daar al vele helder sterre opgeskiet.

Ons het dan drie finaliste in die Mej. SA kompetisie, ‘n Valie het nou die dag die wenperd by die Durban July gery en onse Cebisile Banda van Georgina’s Dansstudio is as Spaansedans wêreldkampioen gekroon.

Dink ons is dalk net te warm vir sneeu. So van warm gepraat. Ek is een van daardie mense wat altyd half warm kry.

Dis nou behalwe as my kar my vertel dis -1. Ongelukkig is die res van die kantoor se mense meer aan die koulike kant.

Hulle sit die verwarmer aan, ek slaan rooi kolle uit en sit af. En so is daar ‘n oneindige sirkel van aan en afsit aan die gang.

Synde dat ek in die minderheid is, probeer ek regtig met die hitte saamleef maar dit gaan moeilik.

Ek is hoeka een wat met ‘n oop venster slaap, winter en somer. Vars lug is belangrik.

Het ook altyd raas by Pa gekry omdat ek kaalvoet in die huis loop in die winter. ‘n Rol wat my Liewe Vriend nou oorgeneem het.

Hy trek heeldag matjies nader dat ek tog net nie op die koue teëls moet staan nie.

Ook nou nie my skuld ek het nog nooit van skoene gehou nie. Maar ja, so is ons darem al amper in die middel van Julie.

Die Springbokke het hul eerste wedstryd gewen en daar is tuisgemaakte boontjiesop in die vrieskas. Dis nou vir ingeval die winter weer kom inloer.

Regte winter is vir my as die maksimum temperatuur onder 15 grade draai. Hier by 12 grade oorweeg ek ‘n trui.

Dit word nie koud genoeg (meer) vir verwarmers nie. Dit was anders toe ek op skool was.

Goeiste, dit was koue winters. Elke oggend het die ys wit op die skoolveld gelê. Ideaal om op te skaats, maar nie goed vir jou skoolklere nie.

Was ook asof ons meer gerat was vir die koue daar in die 70’s en 80’s. Ek het toe nog jasse, serpe en handskoene gehad.

Vroegoggend is die skoolklere oor die asbesverwarmers warm gemaak. Op ‘n kol was kombersbaadjies hoogmode. Die baadjies is letterlik van komberse gemaak.

Ek onthou ek het een jaar by die Randse Paasskou so ‘n kombersbaadjie aangeskaf en my halfpad dood gedra aan die sware ding die hele dag.

Daardie winter het die baadjie sy werk gedoen. Nou se dae het ek net die paar blou halfvinger handskoene wat Ma een jaar vir my gebrei het omdat my vingers koud geword het as ek stories tik.

Ek het dit Maandag weer uitgegrawe om mee werk toe te ry. Ma het net een kyk gegee en gesê: “daai handskoene pas glad nie by jou uitrusting nie.”

Ek het gesê dis net vir die bestuurslag tot by die werk, maar Maandag se -1 het my bietjie onkant gevang en eindelaas het die handskoene eers nader aan etenstyd gewaai.

Intussen het dit darem heelwat warmer geword. Nou moet ek net my kollegas oortuig om die verwarmer in die kantoor af te skakel. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button