Tientalle mense in hegtenis geneem tydens Operasie O Kae Molao
Tientalle mense is Donderdagoggend (13 Julie 2023) tydens 'n teenmisdaadveltog in die Midvaal-omgewing in hegtenis geneem vir verskeie misdrywe.
MEYERTON. – Bykans 80 mense is in hegtenis geneem vir misdrywe wat verband hou met die onwettige besit van dwelms, gesteelde goedere, sowel as oorteding van die immigrasiewet tydens Operasie O Kae Molao.
Die polisie het die teenmisdaadveldtog saam met privaat sekuriteitsmaatskappye soos Beast Security en Afri Guard, sowel as Meyerton se GPF, die AfriForum-buurtwag en die misdaadvoorkomingsbewaarders van Gauteng aangepak.
Padblokkades is gehou en die polisie en rolspelers het op inligting wat deur lede van die publiek deurgegee is gewerk.
Kobus Hoffman, ‘n provinisale wetgewerslid van die VF Plus, was ook by die operasie betrokke.
Hy sê: “Die operasie was ‘n reuse sukses en ek wil graag die stasiebevelvoerder lt. kol. Elizabeth Hlasa en haar span, die stasies wat die operasie bygewoon het, asook die organisasies wat betrokke was bedank vir hierdie uitstekende werk en groot sukses.”



