Skouspel van sport, sonder politieke inmenging
Die Bokkiedag-sportdag by Hoërskool Dr. Malan het Saterdag (15 Julie 2023) volkseie rugby-, netbal- en hokkie-aksie uit die boonste rakke opgelewer.
MEYERTON. – Die beste spelers van unies regoor Suid-Afrika wat aan die onlangse Bokkieweek deelgeneem het, het hier die geleentheid gehad om teen mekaar mee te ding.
Die topspelers is op grond van hul vertoning by die onlangse AVS Bokkieweek in Kroonstad vir die nasionale AVS Bokkiespanne gekies.
Die spanne het Saterdag die geleentheid gehad om op die rugbyveld, hokkieveld en netbalbaan mee te ding.
Deelname aan sport op meriete het die afgelope jare vir talle jong Afrikanerseuns en -meisies ‘n vae droom geword met druk wat toenemend op skole, sowel as op provinsiale en nasionale vlak toegepas word om sportspanne te transformeer.
Teen die agtergrond van die kwotabeleid wat jong belowende sportsterre uit spanne hou is die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) in 1992 begin om meer geleenthede vir Afrikaners te skep om hul sporttalente uit te leef.
Dit bied aan jong sportlui die geleentheid om mededingend aan sport te kan deelneem sonder enige politieke inmenging.




