Aan wie behoort die oulike woef?
VEREENIGING. - 'n Oulike worshond/jack russell-kruising het op 25 Junie by Annelle Germeshys se woning in Blackwoodstraat, Risiville, opgedaag en homself tuis gemaak. Sedert daardie dag is Annelle op soek na sy eienaar.

“Hy het by ons erf ingekom en homself tuis gemaak. Hy is baie oulik en ons het hom veilig gehou en dadelik op sosiale media ‘n foto van hom begin versprei met die hoop dat sy eienaar opgespoor kan word,” vertel Annelle.
Ongelukkig kon die eienaar nie opgespoor word nie. Intussen het Annelle en haar gesin die hondjie versorg.
“Hy is nie baie lief vir katte nie, en ek het ‘n kat wat erg bederf word en my kat wou nie eers inkom met die nuwe brakkie daar nie. Die hondjie en my groter hond het wel begin maats maak,” sê Annelle.
Sy het die regte ding gedoen deur ook die Vereeniging DBV te kontak en ‘n foto van die hondjie aan hulle te stuur. Die DBV het aangebied om die hondjie te kom haal, maar Annelle het verkies dat die hondjie eerder warm by hulle in die huis bly, totdat die eienaar opgespoor word. Die DBV het dit aanvaar.

Op 11 Julie het Annelle besluit om hom na die Drie Riviere Dierekliniek te neem om te kyk of hy nie dalk “gechip” is nie. Hy was nie en toe, tot Annelle se skok, vat die veearts die hondjie met ‘n verduideliking dat mense nie optelhonde mag hou nie.
Die hondjie sou glo twee dae daar wees en dan na die DBV geneem word. “Ek het eenvoudig geen sê gehad nie. Ek het daarna ander veeartse gebel om uit te vind of dit by almal so werk, en die antwoord was nee, hul sou nie die hondjie by my weggevat het nie,” vertel Annelle.
Op 12 Julie het Annelle die DBV gekontak en hulle het toe bevestig dat die hondjie intussen in hul sorg geplaas is. Dit sou beteken dat volgens hul beleid, die hondjie vir 7 dae daar sou wees om die eienaar kans te gee, voordat die hondjie vir aanneming beskikbaar sou wees.
Annelle sal dan eerste opsie hê om hom aan te neem. Dit behels egter die amptelike prosedure van ‘n totale koste van R900, wat die regmaak, spuite en “chip” insluit. Dan eers is hy wettiglik joune en het die vorige eienaar nie seggenskap oor hom nie.
“My hoop was uit die staanspoor om sy eienaar op te spoor. Ek wou hom eerder veilig en warm by my gehou het as wat hy in ‘n hokkie moet bly en deur al die trauma gaan en moontlik nie aangeneem word en dan uitgesit word,” sê Annelle.
Intussen worstel Annelle of hulle die hondjie moet aanneem of nie, as die eienaar nie opgespoor word nie.
“Mens raak so lief, maar my seun wil nie weer deur die trauma gaan dat hy weggeruk word uit sy hande soos by veearts nie (as eienaar opdaag). Dit het ons erg geruk,” sê Annelle.
Die eienaar is welkom om Annelle by 064 9062 718 te kontak.
