Saam kan ons ‘n verskil maak
Helpende Hand se Vanderbijlpark-tak is onlangs herstig en het reeds verskeie projekte aan die gang.
VANDERBIJLPARK. – Helpende Hand Vanderbijlpark is weer volstoom aan die gang. Die tak is onlangs herstig en in Februarie is Johann Viljoen as die nuwe voorsitter gekies.
Hy en sy span het nie op hul laat wag nie en het dadelik losgetrek om te help tydens die groot oorstromings by Sunset Paradise in Februarie.
“Die nood is steeds baie groot daar. Ons het al van AfriForum se Pretoria beraders gekry om te help met traumaberading. Daar is mense wat alles verloor het,” vertel Johan.
Helpende Hand is steeds daar besig om uit te help waar hul kan. Die organisasie beywer hul landwyd vir gemeenskapsopbouing.
“Ons is nie ‘n kos pakkieorganisasie nie, maar het maatskaplike werkers wat gesinne in nood bystaan deur assessering en dan die nodige instansies kontak, sou daar ‘n behoefte wees aan kos en klere,” sê Mariëtte van de Werken, Helpende Hand se streekorganiseerder vir die WesRand en Vaaldriehoek.

Johann sê een van hul lekkerste projekte tot dusver was die besoek wat hul aan die Lewensligsentrum (‘n instelling vir per sone met gestremdhede) in Vanderbijlpark gebring het.
“Ons het baie lekker saam met die Liggies gekuier en hul ‘n verskeidenheid musiek aktiwiteite saam met hul gedoen,” vertel hy.
Tydens die besoek is 44 Liggies ook as ereondersteuners van Helpende Hand verwelkom. Elkeen het ‘n sertifikaat ontvang waarop hulle baie trots is.
Helpende Hand wil met sy ereondersteunersinisiatief dankie sê aan mense met gestremdhede, asook bejaardes bo die ouderdom van 80, en hulle deel maak van Helpende Hand se netwerk en familie.
Dan was daar die Boerejol wat 24 Junie gehou is. “Ons het ‘n spesiale hoek vir die kinders gehad waar hul kon kettieskiet en ons hul gesigte geverf het.
“Almal het dit baie geniet en baie volwassenes het ook hul hand aan kettieskiet gewaag.
“Daar was selfs ‘n oupa wat vir sy kleinseun geleer het hoe om dit te doen. Dit was nou regtig spesiaal,” beduie Johann wat ook toegee dat die klomp kinders hulle goed moeg gehad het.

Helpende Hand Vanderbijlpark is ook deel van Help Jag se kosblikkieprojek, waar jagters die bokke wat hul skiet se vleis skenk aan skole se voedingsprojekte.
Hierdie jaar alleen is daar al 8 000 kinders van vleis voorsien. Intussen gaan die Ons Winkels in Vander bijlpark van krag tot krag. Hier kan goeie kwaliteit goedere teen billike prys gekoop word.
Geld wat so ingesamel word, word weer aangewend vir rentevrye studielenings.
Johann sê hierdie jaar wil hul soveel as moontlik mense kry om aktief betrokke te raak by Helpende Hand.
Dis die jaar van die vrywilliger en mense kan www.wesrand hand.co.za besoek vir meer besonderhede oor projekte en hoe om betrokke te raak.
Volg ook gerus hul facebookblad by Solidariteit Helpende Hand Vanderbijlpark.
