Local newsNewsNews

4 Eva Young – ‘n Treffer by feeste

Vier jongelinge van die Vaal vestig hul name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf fees vir fees.

MEYERTON. – Vier jongelinge van die Vaaldriehoek is besig om opslae te maak in die musiekbedryf.

Ons eie 4 Eva Young band het onlangs die kykNET verhoog en die Nashua verhoog by die Innibosfees in Nelspruit laat kook. Om die waarheid te sê, hulle het tweekeer op die kykNET verhoog opgetree.

Nie sleg vir ‘n band wat maar eers twee en ‘n half jaar gelede tot stand gekom het nie. Die toekoms lyk rooskleurig vir die talentvolle kwartet.

Caitie Rock (graad 7) en Johan van Rooyen (graad 8) neem die voortou as die hoofsangers, terwyl Johan ook uitblink op akoestiese kitaar.

Die band by die GrootFM studio na hul opname vir die Battle of the Bands.

Reuben Herbst (graad 6), wat self goed is op akoestiese kitaar, gee die toon aan op baskitaar met die jongste lid, Zandri Bezuidenhout (graad 5) wat die tromme slaan.

Oor Innibos kan die span nie uitgepraat raak nie. Hul ouers was baie beïndruk dat hul foto’s kon neem met legendes in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld soos Tobie Cronjé, Jak de Priester en Sandra Prinsloo, maar dis die jonger generasie musikante wat die 4 Eva Young band hoendervleis gee.

“Ons was besig om op te tree, toe stap Refentse in. Ek het skoon verbouereerd geraak,” lag Johan wat eers gestop en vir die gehoor gesê het, “jammer, maar Refentse het so pas ingestap en toe raak ek die kluts kwyt.”

Die meisies was gaande om Eloff te ontmoet, terwyl die twee manne meer Eloff se motor bewonder het.

Al vier is dit eens dat hul sommer baie respek vir Sorina Erasmus (Die Flooze) gekry het. “Sy is nou wraggies ‘n aangename mens.”

Op hierdie stadium is Reën hul gunsteling musiekgroep en hulle het net lof vir die nuwe lid van dié musiekduo, Nolene Spinks.

Dan het “oom” Richann van Reën ook 4 Eva Young se nuwe liedjie, Tiekiedraai geskryf wat hul die eerste keer by Inni bos gesing het.

“Dit was so spesiaal, oom Richann was in die gehoor toe ons dit die eerste keer sing,” en al vier gesigte straal.

Kort na die Innibosfees het die span hul in die GrootFM studio bevind vir die Battle of the Bands. Dis ‘n landwye kompetisie waar bands groot kan wen.

Hulle het die onderhoud oor die radio en die opname van hul liedjie, Trippel Wip, baie geniet. Gaan “like” gerus die liedjie op Grootfm se YouTube kanaal.

Hulle wag nou in spanning vir die aankondiging van die top bands wat deurgaan.

Dis opmerklik hoe die vier die afgelope jaar gegroei het. Hulle straal ‘n professionaliteit en selfvertroue uit ver bo hul ouderdom.

“Soms vergeet mense ons is eintlik nog kinders en dan vra hul ons moeilike goed veral by radio onderhoude,” sug Reuben dramaties. Hulle is dit eens dat hulle verkies om sommer net te kuier en te gesels.

Hierdie jaar lê daar nog vele optredes vir hul voor, van die Velliefees in Heidelberg tot by Aardklop in Potchefstroom en die Midvaal Summer Sport Festival wat 29 en 30 September by die Hoërskool Dr. Malan aangebied word.

Reuben gee gou die versekering dat al die optredes geensins met hul sport of akademie indruis nie. Al vier vaar baie goed op skool op akademiese en kulturele gebied.

Reuben leef vir sy rugby en krieket en is juis opgewonde om hierdie jaar deel van die Sedibeng o.12 Rhino Week-span te wees.

Caitie, wat verlede jaar die titelrol in die Pretoria Jeugteater se produksie Annie gespeel het, sê alhoewel sy steeds dramaklasse loop, fokus sy die jaar meer op haar laaste laerskooljaar.

Sy is hoofmeisie van Laerskool Midvaal en sê dit hou haar baie besig. Zandri sien uit daarna om volgende jaar weer aan sport te mag deelneem nadat ‘n kniebesering verlede jaar haar vir lank uit aksie gesit het.

Johan vind nog sy voete by Hoërskool Dr Malan en is ook besig met sy graad 6 musiek.

Wanneer kan ons ‘n CD verwag? “Ag nee tannie, daar is nie meer CD’s nie?” help Reuben my dadelik reg. “Ons werk aan ‘n album, maar ons het nog nie genoeg liedjies nie.”

Hulle is baie opgewonde, want Tiekiedraai gaan eersdaags amptelik vrygestel word en intussen sit Trippel Wip sommer ekstra wip in almal se stap wat daarna luister.

Dis lekker om hierdie besonderse band te volg. Met elke onderhoud skitter hul oë meer, wil-wil die antwoorde meer formeel raak, maar dan onthou hul weer die plaaslike koerant se tannie is hul grootste bewonderaar en dan kuier ons alte lekker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button