Emfuleni betaal glo ingenieur vir vier jaar terwyl hy by die huis sit
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit betaal glo al die afgelope vier jaar vir Silence Munwai, ‘n senior elektriese ingenieur, terwyl hy by die huis sit en niks doen nie.

EMFULENI. –Volgens Kingsol Chabalala, ‘n lid van die provinsiale wetgewer en die DA se kiesershoof in Emfuleni-Noord-kiesersafdeling, sit Munwai al sedert 2019 by die huis terwyl hy ‘n jaarlikse salaris van R597 022.00 trek.
Emfuleni se bestuurder van parke en begraafplase, Sithembile Ngobeni, het ’n beskermingsbevel teen Munwai bekom nadat hy blykbaar gedreig het om Ngobeni te skiet en hom dood te maak.
Dit volg nadat Ngobeni glo vir Munwai aangespreek het oor hy alewig nie by die werk is nie.
Hierdie inligting is deur die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Mzi Khumalo, verskaf op skriftelike vrae deur die DA wat in die Gautengse wetgewer ter tafel gelê is.
Chabalala sê hierdie onopgeloste dispuut kom teen ‘n massiewe koste vir belastingbetalers en kan dit nie toegelaat word om voort te gaan nie.
“Dié dispuut tussen die twee werknemers kom die Emfuleni-inwoners, wat steeds aan ’n ineenstorting in dienslewering ly, duur te staan.
“Die feit dat hierdie dispuut al jare lank duur toon dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se menslike hulprobbe-afdeling misluk het om hierdie aangeleentheid aan te spreek,” sê Chabalala.
Die DA het gevra dat LUR Elias Khumalo dringend moet intree en die saak oplos om te voorkom dat meer geld verdeur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vermors word.
Die DA vra ook dat die provinsiale regering van Gauteng maatreëls in plek stel om te verseker dat geskille tussen bestuurders en ondergeskiktes spoedig opgelos word.

