Local newsNewsNews

Positiewe vredemaker met ‘n hart vir mense

Celeste Lance is een van die staatmakers in Rotary. Ons het gaan nader kennis maak.

VANDERBIJLPARK. – Celeste Lance is sinoniem met Rotary in Vanderbijlpark en dan is sy ook al dekades lank die een wat sorg dat die regte mense in die regte posisies aangestel word.

Celeste is die vriendelike vredebewaarder met ‘n kop vir organiseer. Sy ken ‘n magdom mense en weet hoe om te netwerk.

Alhoewel sy nie in Vanderbijlpark gebore is nie, beskou sy haarself uit en uit as ‘n Valie.

“Ek was ses en ‘n half jaar oud toe ons Vanderbijlpark toe getrek het. Ek kan nie eens onthou wat was die skool se naam waar ek my eerste ses maande van graad 1 was nie,” lag sy.

Celeste saam met haar skoonseun, Pikkie Fouche, haar jongste kleinseun Jake, dogter Samantha en haar jongste kleindogter, Lex. Foto: Verskaf

Sy was destyds in Oliver Lodge Primary School totdat Pinedene Primary School klaar gebou is. Matriek het sy aan Vaal High School voltooi.

Celeste sê sy was nooit regtig stout op skool nie, dalk net bietjie onnutsig. “My nooiensvan was De Goede en op skool het hulle my Celestie De Goedie genoem. “Ek het nie daarvan gehou nie,” beduie sy en lag weer.

Dis die dat sy na haar egskeiding 30 jaar gelede besluit het om haar getroude van te behou. Sy is ma van Robert en Samantha en ouma van vier kleinkinders.

“Ek is nie ‘n tipiese koek en tee ouma nie, maar ek is baie lief vir en trots op my kleinkinders.”

Haar pad met Rotary het in 2008 gekruis. “Samantha is op daardie stadium uit die huis en ek het iets gesoek om die leë nes te vul.”

Sy het 28 Februarie 2008 lid van die Rotariër Klub van Vanderbijlpark geword en is vandag steeds ‘n aktiewe lid.

Die Rotariërs het haar dadelik ingetrek en sy was vyf maande later reeds deel van die klub se bestuur. Sedertdien het sy al verskeie poste in die klub vervul, van sekretaresse tot president.

Sy was ook assistent-goewerneur van die Rotary D9400 area vanaf 2015 -2019.

“Ek het in my wildste drome nie gedink ek sal ooit leier wees in Rotary nie. Op skool was ek nooit as leier geïdentifiseer nie. Ek het eers toe ek by Kelly begin werk, besef ek is ‘n gebore leier.”

Celeste Lance (regs) en Jeanette Steyn-Nortjé kry die Rotariër Klub van Vanderbijlpark se potjie aan die gang tydens die Rotarërs se jaarlikse potjiekoskompetisie. Foto: Albertus Kriel

Dit was juis in haar jare as bestuurder by Kelly waar sy menige oorsese reis gewen het omdat haar tak as die beste aangewys is. So kon sy lande soos Spanjé, Thailand, Portugal en Egipte ervaar.

“Dan het ek en my een vriendin, Jane ook een jaar Griekeland toe gegaan. Ons het net soos daardie vrou in Shirley Valentine gevoel,” onthou sy met ‘n vonkel in haar oë.

Celeste was onlangs weer president van die Rotariër Klub van Vanderbilpark en het die leisels aan Adri Roos oorhandig einde Junie.

“Hierdie jaar gaan ek nou fokus om ‘n beter balans tussen my familie en werk te handhaaf.” Celeste is tans een van drie dames wat Dynamic Outsource Solutions bedryf.

Haar hart klop warm vir kinders en ouer mense. Sy het ‘n hart om te dien en gaan altyd uit haar pad om ander te help.

Kersoggend verlede jaar het sy vroegoggend al gaan sagte speelgoed uitdeel by van die plaaslike hospitale se kindersale.

Een van haar hoogtepunte as klubpresident in 2013/2014 was toe Rotary die langste wasgoedlyn oor water gespan het.

“Ons het groot borge gehad en al die klubs het ingespring en gehelp om oor die 6 000 wit skoolhemde en T-hemde op te hang.

“Na die tyd is al die klere aan skole in die Vaaldriehoek geskenk. Ons klub het daardie jaar ‘n toekenning gekry vir die beste projek in die Distrik,” onthou sy met ‘n glimlag.

Deur Rotary het sy geleer om te gaan waar daar nood is. “As jy ‘n Rotariër is word jy keer op keer uit jou gemaksone gedwing. Dit maak jou oë oop,” sê sy.

Een ding weet sy verseker, solank as wat sy nog kan, sal sy aanhou terugploeg in die gemeenskap, want dit is wie sy is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button