Afskeid geneem van geliefde afrigter
Hy het baie vir sportontwikkeling in die Vaaldriehoek gedoen en het as afrigter streng keuses gemaak as dit by spankeuses kom.
*Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (14 – 20 Julie 2023) verskyn.
VANDERBIJLPARK. – Neels Venter, oudonderwyser en rugbyafrigter wat diep spore op die gebied van rugby in die Vaaldriehoek getrap het, is onlangs in die ouderdom van 76 jaar oorlede.
Venter was volgens oudkollegas en vriende baie geliefd en gerespekteerd onder personeel, ouers en kinders.
Hy word beskryf as ‘n passievolle onderwyser en ‘n gewaardeerde rug byafrigter wat vir 28 jaar afgerig het.
In die Vaaldriehoek was hy sameroe per van die destydse Vaaldriehoek keurkomitee en later voorsitter van die Valkekeurkomitee.
Hy was vir drie jaar die afrigter van die Valke se o.18 Cravenweekspan.
Sy Cravenweekspan het in 1998 in die eindstryd gespeel, met Bakkies Botha as sy kaptein.

“Talle afrigters het baie by hom ge leer. Hy het altyd ‘n positiewe uitkyk op rugbyafrigting gehad. Sy heengaan laat ‘n groot leemte in rugbygeledere,” sê Fanus Loubser, ‘n oudkollega.
Venter was ook betrokke by die 1998 Cravenweek in Vanderbijlpark, wat ‘n groot sukses was.
Hy is 3 Januarie 1947 in Marblehall gebore.
Hy het sy onderwysloopbaan by Hoërskool Riebeeck in Randfontein begin, waarna hy as ‘n onderwyser by Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging aangesluit het.
Hy is later weer terug na Hoërskool Riebeeck nadat hy ’n pos as departementshoof aanvaar het.
Venter was later adjunkhoof by Hoërskool Goudrand in Randfontein en is daarna as senior adjunkhoof by Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark aangestel, waar hy tot en met sy aftrede in 2008 gewerk het.
Venter het sy vrou Hanlie by Hoërskool Riebeeck ontmoet.
Hy het haar in 2002 weens kanker verloor.
Na sy aftrede het hy na Naboomspruit getrek.
Hy is daarna na ‘n aftree-oord in Pretoria.
Hy het later, weens gesondheidsredes, na Randfontein teruggekeer.
Hy word oorleef deur twee dogters, ‘n seun en vier kleinkinders.
* Die berig is saamgestel met behulp van inligting wat deur Piet van Wyk, Doom Gouws en Fanus Loubser, almal oudkollegas van Venter, verskaf is.

