Bekende inwoner van Vaal sterf skielik
Mev. Breedt se begrafnisdiens vind Vrydag, 21 Julie om 11:00 vanuit die Deo Credo Familiekerk in Pres. Steynstraat, Vanderbilpark plaas.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Nakkie Breedt, wat meer as vier dekades saam met haar man help bou het aan hul familie-onderneming, Elma Lugversorgers, is Vrydag, 14 Julie, onverwags oorlede.
Volgens een van haar seuns, Johan Breedt, het sy die aand na ‘n massiewe beroerte en hartstilstand gesterf. Sy was 77 jaar oud.
Tannie Nakkie, soos sy onder baie inwoners bekend was, en haar man, ook Johan, was meer as 40 jaar eienaars van Elma Lugversorgers voordat hulle afgetree en die onderneming aan een van hul seuns verkoop het. Die onderneming word steeds as ‘n familiesaak bedryf.
Tannie Nakkie en haar man sou in September hul 61ste huweliksherdenking gevier het. Buiten haar eggenoot word sy ook oorleef deur agt kinders, tien kleinkinders, drie agterkleinkinders en ‘n vierde wat op pad is.
“Ons het altyd gesê Ouma Nakkie was een van daardie soort oumas met ‘n hart soos ‘n taxi. Daar was altyd plek vir almal. Sy het graag gebrei en gehekel en het seker gemaak al die kleingoed in die familie kry ‘n kombersie of ander spesiale geskenk. Haar Christenskap was vir haar baie belangrik. Sy het ‘n besondere wysheid en kennis van die Bybel gehad,” sê haar seun Johan.
Haar begrafnisdiens vind Vrydag, 21 Julie om 11:00 vanuit die Deo Credo Familiekerk in Pres. Steynstraat, Vanderbilpark plaas.
