Groot skrik na OTM ontplof
Dit was 'n onaangename wakker word 16 Julie vir die personeel van die Vaal Highway Filling Station.
VANDERBIJLPARK. – Die oggend van 16 Julie het 10 gewapende mans die Highway Vaal Filling Station (op die hoek van die N1 en R53) bestorm.
Die petroljoggie aan diens is gedwing om in die personeelkamer te gaan lê, nadat hulle sy kontant en selfoon afgevat het.

“As jy ons nie pla nie, sal ons jou nie pla nie,” het hulle gesê. Van die rowers het probeer om die winkel se hek oop te breek, maar kon nie daarin slaag nie.
Hulle het wel plofstof gebruik om die OTM te probeer oopblaas.
Ses ontploffings is gehoor, maar die rowers kon nie daarin slaag om die OTM se kontant in die hande te kry nie.
Dit was blykbaar as gevolg van ʼn kluissisteem wat deur die OTM maatskappy geïnstalleer is.
Volgens die kringtelevisie het die hele petalje ongeveer 18 min geduur. Niemand is beseer in die voorval nie.
Die bestuurder van die vulstasie, Nico Nagel sê sy huis is op dieselfde perseel, 50 meter van die OTM.
Hulle het net na 04:00 wakker geskrik weens die ontploffings. Hy het dadelik probeer om kontak met die personeellid aan diens te maak op die tweerigtingradio, maar het geen antwoord gekry nie.
Daarna het hy hom probeer skakel, maar die foon is doodgedruk.
Nico kon op die CCTV sien hoe die rower die foon dooddruk. “Intussen het ek op verskeie noodgroepe gevra dat ons spoedig sal bystand kry.
“Van die lede het die polisie ontbied. Ons was vreesbevange om uit die huis te gaan.
“Ek het my buurman geskakel en gevra hy moet my laat weet sodra hy polisie voertuie sien inry,” het Nico na die tyd vertel.
Alhoewel almal baie geskok was na die voorval, gaan diens voort by die vulstasie. Daar is nog ‘n OTM waaarvan kliënte gebruik kan maak.
