Vaalpark Primêr maak omgee pret
Die skool glo daarin om 'n verskil in die gemeenskap te maak, op 'n pret manier.
VAALPARK. – By Vaalpark Primêr word dinge anders gedoen. Hierdie jaar het hul besluit basta met net een dag in ‘n jaar iets vir die gemeenskap doen.
Hulle wil dit sommer elke maand doen. Om die kinders te leer om van hulself te gee vir ander, het hul besluit om hierdie jaar agt pretdae te hou.

Dit sluit alles in van om met alles behalwe ‘n tas skool toe te kom tot by om soos jou gunsteling onderwyser aan te trek.
Die “fooie” vir hierdie dae wissel. Die een dag het hul blikkieskos ingesamel om onder behoeftige instansies te versprei, op ‘n ander geleentheid soppoeier en met hul Funky Socks dag was dit pasta.
Verlede kwartaal was daar ook ‘n hempiedag, waar elke kind ‘n bruikbare hempie moes skenk en in ruil daarvoor in hul slaapklere skool toe gekom het.
Dit veroorsaak natuurlik groot opwinding en pret met die personeel wat na hartelus meedoen.

Later die maand skop hul die nuwe kwartaal af met ‘n dag waar elkeen volgens die letter waarmee hul naam begin moet aantrek. Die toegang is two-minute noodles.
Die skool se skakelbeampte, Charmaine Kriek sê hulle wil elke maand hul 67 minute aan die gemeenskap gee.
“Die jaar is ons skool se tema, Staan en kyk! Ons het hierdie gekoppel aan ons sintuie en spore wat ons in mense se lewe laat.”
Sy sê almal geniet die dae baie en dis vir die leerders lekker om te weet hul kon al vier keer hierdie jaar ander help.
Almal sien uit na die vier groot dae wat nog voorlê voor die Desembervakansie.
